Groot jaarlikse verliese as gevolg van vandalisme van sy infrastruktuur en voertuie het die GO GEORGE-busdiens genoop om ‘n veelvoudige veldtog teen vandalisme van stapel te stuur, ook met ‘n kort opvoering deur ‘n groep passasiersdiensbeamptes.
Ná ‘n jaar van Covid-19-beperkings en versigtige betrokkenheid by die publiek, insluitende hul gereelde skoolbesoeke, het die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes hul uitreik na skole hervat waar beperkte getalle studente op ‘n slag, streng volgens Covid-19-veiligheidsregulasies, oor belangrike onderwerpe soos vandalisme en die reëls van busvervoer toegelig word.
Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, moes die kommunikasiespan kreatief dink oor die aanbieding van die skokkende boodskap oor die impak van vandalisme en die gevolge vir die oortreders self.
“Die sinnelose vandalisme van die busdiens se infrastruktuur het ons laat besluit om die jongelinge in hul taal aan te spreek om hul samewerking te kry om ons te help om hierdie soort gedrag te voorkom wanneer hulle sulke voorvalle sien gebeur,” sê Robb. “Toe ons voor die Covid-inperking hierdie medium van drama gebruik het om met leerders in gesprek te tree, was dit duidelik dat ons op die regte snare tokkel, te oordeel aan die deelname van die gehoor en die mate waartoe hulle die fyn humor absoluut geniet het.
“Ons vind dat dié metode om die redes vir reëls op die busse en die impak van vernietigende gedrag te verduidelik, die doeltreffendste is en beplan om dit toenemend te gebruik om belangrike boodskappe by die publiek tuis te bring. En natuurlik was dit glad nie moeilik om genoeg vrywillige akteurs en talentvolle komediante onder die passasiersdiensbeamptes te vind vir ‘n kort produksie nie, wat welkome verskeidenheid bydra tot hul daaglikse taak om passasiers by te staan, te lei en in te lig.”
Rolspel beklemtoon die gevolge
Die anti-vandalisme-opvoering moedig respek aan vir ander mense en openbare eiendom, beklemtoon dat die beskadiging van openbare eiendom ‘n kriminele oortreding is wat tot tronkstraf kan lei, en die negatiewe impak van ‘n kriminele rekord op die oortreders se toekomstige indiensnemingsvooruitsigte.
Die terugvoer van hoërskole wat reeds besoek is, is oorweldigend positief. Benewens die leerders wat die pittige aanbieding “in hul taal” geniet en dit ter harte neem, sê skoolhoofde dat die boodskap van respek vir ander mense en openbare eiendom universeel van toepassing en baie welkom is.
‘n Poppeteater om met jonger kinders te kommunikeer, is ook in die vooruitsig.
Skole wat belangstel in ‘n besoek van die GO GEORGE-span is welkom om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel en ‘n boodskap te laat. Nakoming van Covid-19-protokol is top prioriteit en sal met belangstellendes bespreek word.