In ’n gesamentlike verklaring wat vandag uitgereik is, het die Wes-Kaapse regering en George-munisipaliteit aangekondig dat die eerste roete van die GO GEORGE-busdiens na Thembalethu op Sondag 5 November 2023 sal uitrol.
Daar is besluit om met een roete, Roete 18A van Thembalethu na Blanco, te begin. Meer roetes sal voortdurend uitgerol word totdat al die beplande Thembalethu-roetes geaktiveer is, wat busse verantwoordelik in die opeenhoping by die padwerke op die N2/Thembalethu-brug sal infaseer.
Volgens George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Leon van Wyk, is die huidige uitrolplan goed deurdink om minimum ontwrigting te veroorsaak terwyl dit uiteindelik die verlangde busdiens na dié gebied bring. “Ons skuld die mense van Thembalethu hierdie veilige en betroubare diens wat hulle ook baie vervoerkoste sal bespaar. Ons sal alles in ons vermoë doen om ‘n sukses van hierdie uitrol te maak sodat die res van die roetes kort daarna kan volg,” het hy gesê.
LUR Ricardo Mackenzie, Wes-Kaapse minister van mobiliteit, het sy heelhartige steun vir die uitrol uitgespreek. “Ek is verheug dat ons nou so ver gekom het en wil alle rolspelers en gemeenskapsleiers bedank vir hul samewerking en ondersteuning om hierdie droom te bewaarheid. Ons het lank gewag hiervoor,” het hy gesê.
Thembalethu-slimkaartkiosk oop vir sake
‘n Vaste slimkaartkiosk langs Truns in Nelson Mandela Boulevard sal op Maandag 30 Oktober oopmaak vir sake. Twee mobiele Slimkaartkiosks sal by Fourways en die Jonga-sirkel parkeer en dieselfde dienste verskaf.
Voornemende passasiers word aangemoedig om hul slimkaarte betyds aan te skaf en ritte te laai. Passasiersdiensbeamptes sal op dieselfde perseel beskikbaar wees om vrae te beantwoord en passasiers raad te gee oor hoe om die diens te gebruik.
‘n Spesiale afdeling oor die Thembalethu-diens kan gevind word op die tuisblad van die webwerf, www.gogeorge.org.za. Enigiemand wat meer inligting verlang, kan die GO GEORGE-inbelsentrum van 05:00 tot 20:00, sewe dae per week by 0800 044 044 skakel.