GO GEORGE neem hande met die Wes-Kaapse departement van gesondheid in ‘n spesiale poging om lede van die publiek wat kies om teen die Covid-19-virus ingeënt te word, te ondersteun.
Gedurende die maand Desember sal twee toegewyde inentingspunte tussen 08:00 en 16:00 op Saterdae by die Garden Route Mall en op Woensdae by die George-vervoerkern (Transport Hub) in Cradockstraat opgestel word.
‘n Gratis rit huis toe ná inenting met die geskeduleerde GO GEORGE-busdiens of die Red Dot taxipendeldiens word aangebied aan persone wat bewys kan toon van inenting met ‘n plakker saam met ‘n inentingskaart wat dieselfde datum vertoon.
Nadia Ferreira, hoofkommunikasiebeampte van die Tuinroete en Sentraal-Karoo Distrikte van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het benadruk dat inenting ‘n baie belangrike instrument in ons stryd teen COVID-19 is. “Inenting beskerm jou teen ernstige siekte, hospitalisasie en dood weens COVID-19. Ons doen ‘n beroep op die publiek om van hierdie geleentheid gebruik te maak om ingeënt te word. Inentings is gratis, veilig en vinnig. Ons herinner die publiek daaraan dat jy steeds ‘n masker moet dra, skares en beperkte binnenshuise ruimtes en gebiede met swak ventilasie moet vermy en by die huis moet bly as jy siek is,” het sy gesê.