GO GEORGE fokus op voetgangerveiligheid rondom busse

30
Jul '21
A man with a flyer in the hand indicating to a bus passenger where a pedestrian crossing is situated.
GO GEORGE-gemeenskapskakelbeampte, Tyron Jeyi, verduidelik aan Bradley Claasen hoe naby die voetgangeroorgang aan die bushalte is, en waarom dit die veiligste is om die besige straat daar oor te steek en nie in die omgewing van die bus nie. Bradley werk by Fancourt en ry vanaf Rosedale dorp toe met die bus en klim by die poskantoor oor op die Blanco-roete.

GO GEORGE het begin met ‘n passasier- en voetgangerveiligheidsveldtog om passasiers sowel as die algemene publiek te herinner om waaksaam te wees en veilig te bly in die omgewing van busse.

Passasiersdiensbeamptes is tans in Yorkstraat by die bushaltes voor die poskantoor asook die bushalte langs die Eden Tegniese Hoërskool besig om pamflette uit deel. In hul omgang met passasiers en voetgangers waarsku hulle veral oor die onveilige kruising van besige strate voor of van agter die bus, en veral by hierdie bushaltes in Yorkstraat.

“GO GEORGE is net so besorg oor die veiligheid van voetgangers by en naby bushaltes as oor die veiligheid van passasiers op die busse,” sê GO GEORGE-bestuurder, James Robb. “Dit is nie veilig om ‘n pad reg voor of agter ‘n bus oor te steek nie, al is die bus stilstaande. Motoriste wat die bus verbysteek, gaan jou moeilik raaksien.”

Robb wys daarop dat die bushaltes doelbewus naby ‘n sebravoetgangeroorgang of ‘n kruising met ‘n voetgangeroorgang geplaas is. “In sommige gevalle word kruisings geplavei of opgebou om ‘n naatlose en direkte loopervaring toe te laat en motoriste te dwing om stadiger te ry. Dit is waar jy wil oorstap om veilig te wees. In voorstede of gebiede waar daar geen kruisings is nie, moet passasiers wag tot nadat die bus vertrek het voordat hulle die pad oorsteek.”

Oor sigbaarheid wanneer mense die straat voor of van agter ‘n bus oorsteek, verduidelik hy dat kruisings ontwerp is om maksimum sigbaarheid van voetgangers toe te laat.

“Motors word gedwing om spoed te verminder of om volledig tot stilstand te kom. Stap asseblief die kort afstand na die naaste kruising en wees veilig,” doen Robb ‘n beroep op alle voetgangers.

GO GEORGE het ‘n pamflet saamgestel wat belangrike wenke vir passasiers bevat oor veiligheid voordat hulle op die bus klim, op die bus, en nadat hulle die bus verlaat het. Met inagneming van Covid-voorsorgmaatreëls soos die dra van maskers, gereelde ontsmetting van hande en ‘n veilige afstand van die mense met wie hulle kommunikeer, gebruik GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes die pamflette om die publiek te waarsku om veilig en verantwoordelik op te tree.

Vir enige inligting of hulp met betrekking tot die busdiens, skakel asseblief die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044, besoek hierdie webtuiste, stuur ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za of besoek die GO GEORGE Facebook-blad om op hoogte te bly van die jongste busverwante nuus.

Latest news