GO GEORGE help leerders om beste roete te beplan

Hoërskool Heatherlands kry GO GEORGE raad

Die graad 8-leerders van Hoërskool Heatherlands ry meestal bus skool toe, het hulle vir Karen Lamberts (foto) van die GO GEORGE-kommunikasiespan vertel toe sy die roete-opsies en belangrike wenke en reëls t.o.v. die gebruik van die busdiens aan hulle verduidelik.

Ná ’n baie suksesvolle program verlede jaar, het GO GEORGE pas begin met nog ’n rondte skoolbesoeke om graad 8-leerders wat die busdiens gebruik in te lig oor hul verskillende roete-opsies.

Skoolkinders is ’n belangrike komponent van die passasiers wat daagliks die GO GEORGE-busdiens gebruik.

Graad 8 meisies ontvang GO GEORGE geskenkpakkies

Die graad 8-leerders van Hoërskool Heatherlands wat die inligtingsessie bygewoon het, het
elk ’n GO GEORGE-toerygsak met ’n handige tydrooster-sakgids, ’n sonskerm en ’n pen- en potloodstel ontvang. Dié drie meisies, (van links) Nthabiseng Luhani van Sedgefield, Mecaylan Olivier en Marisca Claasen, albei van Geelhoutboom, was baie in hul skik met hul
GO GEORGE-geskenke.

“Hoewel die meeste teen dié tyd goed weet hoe om by die skool uit te kom, mag dié wat vanjaar hoërskool toe is dalk nie bewus wees van die verskillende roetes en oorklimpunte wat beskikbaar is om hulle na hul nuwe skool te vervoer nie,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Ons sien leerders wag vir busse wat heel waarskynlik reeds vol sal wees wanneer dit hulle bereik, terwyl ander, geriefliker roetes beskikbaar is op die netwerk van roetes wat die verskillende areas van die dorp verbind.”

’n Unieke kaart wat die verskillende opsies skool toe en terug huis toe uitbeeld, is vir elke skool saamgestel en word uitgedeel en bespreek met die jong passasiers tydens ’n besoek van die GO GEORGE-kommunikasiespan.


Previous Article

Next Article