Die GO GEORGE-busdiens is ontwerp om maksimum toeganklikheid vir mense met enige kategorie van spesiale behoefte te bied. Skakeling met passasiers wat die toeganklikheidsfunksies van die busdiens gebruik, is dus ’n belangrike deel van die deurlopende ontwikkeling en verbetering van die stelsel.
’n GO GEORGE-span het gevolglik ’n groep passasiers met spesiale behoeftes en ’n paar gemeenskapslede genooi om te kom saampraat en terugvoer te gee oor die ontwerp en gerieflikheid van die permanente busskuilings. By die onlangse GO GEORGE-vergaderings in Rosemoor het die skuinste van die sitbankie in die skuilings ter sprake gekom. Die bankies is ontwerp teen ’n effense skuinste om reënwater te laat afloop en te verhoed dat leeglêers daar slaap. Dit blyk egter dat dit ongemaklik is vir gestremde persone of bejaardes wat afgly en nie hulself met hul voete kan ondersteun nie. Hierdie ontwerp sal nou ná die konsultasie verander word vir die oorblywende skuilings wat nog opgerig moet word.
Ander veranderings aan toekomstige skuilings is ’n soliede sypaneel aan die een kant van die skuiling, sonder die uitgesnyde area, vir beter beskutting, en die vervanging van die perspex-panele met gegalvaniseerde metaal, om vandalisme te bekamp. Alle bestaande skuilings is ook onlangs toegerus met glaspanele aan die agterkant om reën en wind te beperk. Ter wille van sigbaarheid, maar met passasiers se veiligheid in gedagte, is veiligheidsglas gebruik.
GO GEORGE doen ’n ernstige beroep op die gemeenskap om vandalisme van die skuilings, in enige vorm, te ontmoedig en om oortreders aan te meld by die inbelsentrum by 0800 044 044. Die beskadiging van munisipale eiendom is ’n kriminele oortreding en die vandalisering van busskuilings sal sodanig hanteer word.