GO GEORGE kry terugvoer van passasiers

3
Oct '23
Bradley Saulse van Blanco het 'n paar minute afgestaan om navorsingsbeampte Valencia Cupido se vrae te beantwoord.

Die jaarlikse GO GEORGE-passasierstevredenheidsopname het afgeskop met ‘n span van 15 navorsingsbeamptes wat onderhoude voer met passasiers by bushaltes, sakelui, en spesiale belangegroepe. Verskeie opnames sal oor ‘n tydperk van ses weke tot en met die einde van Oktober 2023 gedoen word.

Mense regoor die dorp deel graag hul menings oor verskillende aspekte van die busdiens en help sodoende om die algehele sosio-ekonomiese impak van die diens sowel as algemene tevredenheid te meet.

“Ons is so dankbaar vir die gemeenskap se samewerking en algehele ingesteldheid om ons te help om die diens te verbeter,” sê Morné Lakay, waarnemende GO GEORGE-bestuurder. “Mense is haastig om by hul bestemmings uit te kom, maar dit verhoed hulle nie om ons 10 minute van hul tyd te gee wanneer hulle deur navorsingsbeamptes genader word nie. Sonder hierdie soort terugvoer van die gebruikers van ons diens en ander belanghebbendes wat op een of ander manier geraak word, het ons data alleen om ons te lei – ons moet ook weet hoe ons dienste ervaar word,” sê hy.

Navorsingsbeamptes dra GO GEORGE-identifikasiekaarte wat die persoon se foto en ID-nommer toon. 

Vir meer inligting of navrae kan die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 geskakel word.

Latest news