Vra vir enige ouer van ‘n kind met spesiale behoeftes wat die uitdagende pad die moeite werd maak, en hy sal vir jou sê wanneer sy kind gelukkig is. GO GEORGE-busry is die een ding wat ons seun Migael (9) oënskynlik gelukkig maak. Hoe weet ons dit? Outiste wys nie emosie nie, maar wanneer Migael op ‘nGO GEORGE-bus ry glimlag hy van oor tot oor.
Migael is gebore met ‘n baie raar metabolise defek, Phenylketonuria (PKU), en in sy geval ook outisme. Maar dit maak nie van hom ‘n minder brawe seun nie! Migael en sy tutor, Natasha Ranna, maak gereeld gebruik van die GO GEORGE-busse om ander tuisskool-maats, die Garden Route Mall, GeronimoSpur en die biblioteek te besoek. Die plesier wat dit aan ons seun verskaf is merkwaardig.
Natasha rapporteer dat vriendelike busbestuurders hulle telkens verwelkom en besorg is oor Migael. Ongelukkig is hy nie gaande oor die kleiner minibusse nie. Tot almal se vermaak moet busbestuurders, passasiers en Natasha plegtig belowe dat hulle binnekort kan oorklim op die “regte groot” busse!
Dankie,GO GEORGE! Julle diens maak ‘n wesenlike verskil in ons gesin se lewens.
Vir die 9-jarige Migael van Deventer is busry saam met sy tutor‘n groot vreugde wat dié dapper outistiese knapie van oor tot oor laat glimlag.