Vandale in Blanco het hierdie week die elfde busvenster van GO GEORGE-busse stukkend gegooi en veroorsaak dat ‘n bus weereens vir ‘n week lank onttrek word uit die stelsel vir herstelwerk.
“Hierdie raak nou ‘n baie onaanvaarbare praktyk in die Blanco-omgewing,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Die sondebokke is meestal kinders wat nie die implikasie van hul dade begryp nie. Ek sal baie graag wil sien dat die mooi beginsel van ‘my kind is jou kind’ toegepas word wanneer iemand die kinders sien oortree.
Keer hulle – verduidelik vir hulle dat dit geld kos om die busse reg te maak; dat die hele gemeenskap nou vir ‘n week lank gedurig gaan staan en wag vir busse wat laat kom omdat daar nie genoeg busse is om by die skedule te hou nie. Kom ons leer hulle ook ‘my bus is jou bus’ en pas almal saam ons pragtige busse op.”
Blanco-passasiers word versoek om geduldig te wees terwyl die beskadigde bus herstel word, en hul ritte so te beplan dat hulle vroeër begin ry om seker te maak hulle kom steeds betyds by hul bestemmings aan.