Hoewel die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes (Champions) bussgebruikers hoofsaaklik bystaan om die busdiens te verstaan en doeltreffend te gebruik, duik onverwagte situasies soms op, en dan moet hierdie span vinnig en uit die vuis dink. Toe Alicia April, Meloney Frans en Patricia Jacobs onlangs om 19:00 op die bus na New Dawn Park klim om passasiers van die middedorp af huis toe te vergesel, was dit ’n eerste keer. Daardie tyd van die aand doen hulle gewoonlik diens op die City Loop- en Garden Route Mall-busse wat passasiers by oorklimroetes aflaai. Die bus het Pacaltsdorp pas binnegery toe ’n jong passasier versoek dat die busbestuurder so gou moontlik stop.
Dit blyk toe dat die jong man besef het hy het ’n epileptiese toeval aan die kom, en wou gevolglik uit die bus uit kom. Toe hy uitklim by die bushalte, het hy op die grond geval. Toevallig het al drie die passasiersdiensbeamptes aan boord familielede wat aan epilepsie ly, en het hulle presies geweet wat om te doen. Terwyl een die passasiers wat haastig was om by die huis te kom, gekalmeer en ingelig het, het die ander twee die pasiënt op sy sy gedraai en gemaklik gemaak. Omdat hulle ingelig is oor wat aangaan, was die passasiers simpatiek en is toebroodjies en drinkgoed vir die pasiënt aangegee terwyl almal moes wag tot ’n ambulans opdaag.
Dit is GO GEORGE-prosedure dat die busbestuurder die beheerkamer laat weet van sodanige voorvalle sodat mediese bystand dadelik versoek kan word. Hy mag nie die toneel en sy passasier verlaat voordat amptelike bystand opdaag nie.
“Ons glo ons het op daai bus geklim vir ’n rede wat aan ons onbekend was toe ons dit doen,” sê Patricia.
“Ek was heel kalm en het presies geweet wat om te doen,” sê Alicia. “My suster kry toevalle en ’n mens moet net kalm en by die persoon bly tot dit verby is.” “En omdat ons daar was om vir die passasiers te verduidelik hoekom die bus nie dadelik kon vertrek nie, is die situasie op ’n professionele manier hanteer, met almal wat geduldig gewag het en eintlik baie ondersteunend was,” sê Meloney.
Die span passasiersdiensbeamptes is ’n afdeling van die GO GEORGE-kommunikasiespan wat die drie dames loof vir hul professionele en deernisvolle hantering van die situasie.