‘n Uitstappie na die Botaniese Tuin met ‘n GO GEORGE-bus is besig om ‘n jaarlikse instelling vir die kleinspan van die Sonneblomland-kleuterskool in Proteapark te word. Altesaam 61 kleuters tussen twee en ses jaar oud, vergesel deur ‘n groep op-en-wakker onderwysers, het verlede week op die bus gehop vir hul kwartaallikse uitstappie.
Hierdie spesifieke uitstappie, die skool se derde busrit, het die kinders blootgestel aan openbare vervoer sowel as die wonders van die natuur en hulle het laatmiddag teruggekeer skool toe, baie wyser as wat hulle die dag begin het. Die spannetjie het onder andere geleer hoe universeel toeganklik die busse ontwerp is, sodat selfs die “buksies” op hul eie kan opklim.