Ter voorbereiding vir die uitrol van die GO GEORGE-busdiens na Thembalethu, sal ‘n proeflopie deur die gebied oor etlike dae plaasvind vanaf Dinsdag 29 Augustus 2023, ondersteun deur veiligheid-, infrastruktuur- en stelselbeplanningspanne.
Tydens hierdie ritte, wat in die blou- en groen gemerkte busse onderneem word, sal die werklike tyd wat dit neem om die verskillende voorgestelde roetes per bus te voltooi, vasgestel word en teenoor die voorgestelde tydroosters nagegaan word.
Volgens George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Leon van Wyk, moet ‘n finale datum vir die eerste fase van die driefase-uitrol nog aangekondig word. “Ons weet die inwoners in daardie gebiede wag angstig op die busdiens en hierdie opname is een van die laaste stappe in die uitrolproses,” het hy gesê.