GO GEORGE logo
Customer care hotline
[wpavefrsz-resizer]

GO GEORGE pak vandalisme met mening

Die eerste ses ambassadeurs van die GO GEORGE-anti-vandalisme-veldtog het verlede week 'n inleidende vergadering met die veldtogorganiseerders bygewoon om insette te lewer en idees uit te ruil om vandalisme van busse en infrastruktuur te bekamp. Van links is Moses Williams (akteur en komediant), Lizette da Silva (George Herald-redakteur), Lloyd Bosman (atleet), Alet van Tonder (GO GEORGE-kommunikasiespan), Peter Jaftha (bestuurder, Heartbeat FM), James Robb (GO GEORGE-bestuurder), Charmaine Pretorius (GO GEORGE-kommunikasiespan) en Morné Pietersen (bestuurder, Eden FM). Zane Kirchner, voormalige Springbokrugbyspeler en hulpafrigter van die SWD-Arende, is ook 'n lid van die paneel, maar kon nie die vergadering bywoon nie.

van·da·lis·me opsetlike of kwaadwillige vernietiging of beskadiging van openbare of private eiendom

‘n Google-soektog na die woord vandalisme vul die skerm met onderwerpe soos:

  • Wat veroorsaak vandalisme?
  • Wat is die impak van vandalisme op die gemeenskap?
  • Hoe kan ons vandalisme voorkom?
  • Hoe kan ons vandalisme en graffiti stop?

Daar is geen duidelike antwoorde nie, maar gemeenskapsleiers wêreldwyd hou aan grawe vir oplossings vir hierdie pandemie van sinnelose beskadiging van eiendom en die afbreek van infrastruktuur wat die gemeenskap bedien. Op eie bodem is munisipale eiendom, insluitend die busse en fasiliteite van die GO GEORGE-busdiens, die konstante teiken van vandale wat busse met klippe bestook, busskuilings met graffiti ontsier of skuilingpanele wat ontwerp is om passasiers teen gure weer te beskerm, breek.

Deur al bogenoemde vrae te vra, poog die GO GEORGE-bestuurspan om die gemeenskap in geheel, gemeenskapsleiers en -organisasies, rolmodelle en beïnvloeders te betrek om aktief na die plaaslike situasie te kyk.

Gemeenskapsbeïnvloeders sluit aan by die stryd

‘n Paneel van ses bekende gemeenskapsbeïnvloeders het reeds ingestem om “die gesig” van hierdie anti-vandalisme-veldtog te word en hul gewig in te gooi by die poging om die gemeenskap te betrek, oorsaaklike faktore te identifiseer en oplossings te soek. Hulle is Morné Pietersen (bestuurder, Eden FM), Lloyd Bosman (atleet), Moses Williams (akteur en komediant), Lizette da Silva (George Herald-redakteur), Peter Jaftha (bestuurder, Heartbeat FM) en Zane Kirchner, voormalige Springbokrugbyspeler en hulpafrigter van die SWD-Arende. Plakkate met persoonlike boodskappe van elk van hierdie veldtogambassadeurs is regoor die dorp opgerig.

Ná ‘n inleidende vergadering met die span by die GIPTN-kantore verlede week, is GO GEORGE-bestuurder, James Robb, opgewonde oor die insette en idees wat gewissel is. “Die waarde en insig wat hierdie deelnemers tafel toe bring, is geweldig belangrik,” sê hy. “Hul benadering tot die kwessie is vars en kreatief. Hulle bereik lede en sektore van die gemeenskap wat ons op ons eie nooit sal kan doen nie, so daar sal beslis ‘n deurlopende poging wees om meer ambassadeurs uit alle gemeenskappe te betrek om die reikwydte en impak van die veldtog uit te brei.”

Veelvoudige benadering nodig

Die gebrek aan begrip van die waarde van eiendom is tydens die bespreking geopper, asook die gebrek aan respek. “As iemand nie respek het vir ‘n bushalte wat vir hul gemeenskap se gerief voorsien is nie, hoe sal hulle ooit respek vir ander mense en gesagsfigure hê?” het Lizette da Silva gevra. “Ons kan skole byvoorbeeld vra om eienaarskap van nabygeleë bushaltes te neem, terwyl kinders in die proses geleer word om respek te hê vir fasiliteite wat aan hulle voorsien word met swaarverdiende belastingbetalersgeld, en hoe om verantwoordelikheid te neem vir die instandhouding daarvan.”

Peter Jaftha het saamgestem met die konsep om gemeenskappe in hul direkte omgewing te betrek: “Mense in kleiner gemeenskappe ken mekaar en die uitdagings wat in hul gebied in die gesig gestaar word en sal meer geneig wees om betrokke te raak om ‘n probleem op te los wat hul gemeenskap en sy fasiliteite afgradeer.”

Zane Kirchner kon weens werksverpligtinge nie die eerste dinkskrum bywoon nie, maar het sy verbintenis met die veldtog bevestig. “Ek sien uit daarna om oplossings te help vind en die gemeenskappe waarvan ek deel is betrokke te kry by die voorkoming van vandalisme, asook maniere om dit stop te sit,” het hy gesê.

Morné Pietersen het opgemerk dat baie vandale buite formele strukture soos skole val, wat dit moeilik maak om hulle te bereik en hul houding te verander. “Hoewel daar ‘n belangrike opvoedkundige komponent is in die benadering wat gevolg word, sal ons ook met buurtwagte moet saamwerk en hulle bemagtig om ons gemeenskapsvennote te word in voorkoming van vandalisme sowel as die aankeer van misdadigers. Hulle is die mense wat uitkyk vir klandestiene bedrywighede ná donker, wanneer die oortreders op hul aktiefste is.”

Hierdie punt is ondersteun deur Lloyd Bosman wat ‘n onderwyser is en ervaring het van die waarde van elektroniese monitering via CCTV-kameras by skole, ten opsigte van bewyse, asook om oortreders af te skrik.

Moses Williams as vermaaklikheidster en aktiewe sosiale media-inhoudskepper het insette gelewer oor die gebruik van platforms soos TikTok om die jeug te bereik. Hy was voorheen betrokke by die skryf van ’n draaiboek vir anti-vandalisme-sketse wat deur die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes by skole opgevoer word en sal steeds bystand verleen met aktiwiteite wat die uitvoerende kunste betrek, soos die huidige kletsrymkompetisie vir hoërskole.

Beloning vir nuttige inligting

George-munisipaliteit het onlangs ‘n beloning van R2 500 goedgekeur aan persone wat inligting verskaf wat lei tot die suksesvolle skuldigbevinding van vandale wat GO GEORGE-eiendom en -infrastruktuur beskadig. Informante moet die GO GEORGE-inbelsentrum onmiddellik by 0800 044 044 skakel wanneer hulle vandalistiese bedrywighede sien. Ideaal gesproke moet wetstoepassingsagente die vandale op heterdaad betrap, maar fotobewyse sal ook baie nuttig wees.

Enige individu of organisasie wat bereid is om betrokke te raak of advies oor die aanspreek van vandalisme te deel, word uitgenooi om ‘n boodskap by die Inbelsentrum te laat of ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za te stuur.

Plakkate met die ses anti-vandalisme-veldtogambassadeurs wat hul sienings oor vandalisme van GO GEORGE-busse en infrastruktuur oordra, is nou oral in die dorp te sien.

Latest News

IT'S OUR 9th BIRTHDAY TODAY!
Join us in celebrating by taking a birthday photo at the Transport Hub!
Enjoying the festivities are Emmanuel Brits (16 months), mom Marsha Brits, and Sophie Tee. 🥳🤩
@george_mun

IT'S OUR 9th BIRTHDAY TODAY!
Join us in celebrating by taking a birthday photo at the Transport Hub!
Clayton Konstabel and Reanay Marnewick wished GO GEORGE a Happy Birthday 🥳🤩
@george_mun

Load More