Die volgende fase padopgraderings in George wat ‘n uitwerking op die GO GEORGE-busdiens sal hê, begin op Sondag 9 September 2018. Hierdie tweede fase konstruksiewerk in Courtenaystraat behels ’n asfalt-sluitlaag bo-oor al vier bane en sal na verwagting teen die einde van September voltooi wees.
Werk tussen die Eerstestraat/Courtenaystraat-kruising en die Yorkstraat-sirkel sal in een baan op ’n slag gedoen word. Bushaltes wat hierdeur geraak word, sal vir ongeveer 2,5 ure gesluit wees terwyl die mengsel hard word en passasiers word aangeraai om gedurende sulke tye van ander bushaltes gebruik te maak. Om ontwrigting te beperk word die linkerbane – direk langs die sypaadjies en waarin die bushaltes is – een-een gedoen op twee agtereenvolgende Sondae: die suidelike kant (Lynn Schroeder/polisiestasie-kant) kom eerste aan die beurt op Sondag 9 September, en die noordelike kant (McDonalds/Hoërskool Outeniqua-kant) op 16 September.
Sommige kruisings in Courtenaystraat sal gesluit wees net terwyl die laag hard word, maar die twee kruisings by Cradock- en Courtenaystraat, en Memorium- en Courtenaystraat sal die hele tyd oop wees gedurende hierdie fase en later op ’n meer gerieflike tyd voltooi word.
Geslote bushaltes – gebruik vervoerkern
Bushaltes in Courtenaystraat wat met tussenposes vir ongeveer twee en ’n half uur op ’n slag geraak sal word, is Meade 148 en 149, Wellington 565 en 482, Outeniqua 818, en Memorium 618 en 619. Indien die halte gesluit is, kan passasiers van die naaste alternatiewe bushalte gebruik maak, hoewel so ’n buurhalte ook gesluit mag wees gedurende dieselfde tyd. GO GEORGE moedig passasiers aan om voorkeur te gee aan die bushaltes in en om die vervoerkern (Hub) in Cradockstraat om ritbeplanning te vereenvoudig.
Minimale herleiding van roetes
Aangesien die Meade/Cradockstraat-kruising van tyd tot tyd gedurende die konstruksie gesluit mag wees, sal Roete 24 CBD-Loerie Park-GR Mall nie soos gewoonlik ná vertrek vanaf die vervoerkern via Meadestraat na Courtenaystraat ry nie, maar reguit aanhou met Cradockstraat en by die kruising regs draai in Courtenaystraat. Van daar af verder sal die roete soos gewoonlik loop. Hierdie reëling sal geld vir hierdie hele fase.
Roete 56 Denneoord-CBD sal terugval op sy normale roete via Caledonstraat wanneer werk aan die noordekant van Courtenaystraat (geskeduleer vir Sondag 16 September) toegang tot Symondslaan versper.
Ander roetes wat deur die konstruksiewerk geraak word en van tyd tot tyd gaan verg dat passasiers alternatiewe bushaltes gebruik, en waarop vertragings mag voorkom, is al die roetes dorp toe vanaf Pacaltsdorp (roetes 1A, 1B, 60 en 60A), vanaf Rosemoor (roetes 53 en 53B), die City Loop (roetes 13F en 13R), CBD-Garden Route Mall (roete 7), en die Industrial Loop (roetes 9F en 9R).
Die George-munisipaliteit maak verskoning vir die ongerief en doen ’n beroep op padgebruikers om geduldig en versigtig te wees naby die padwerke. Vertragings moet verwag word gedurende die konstruksietydperk.