GO GEORGE pas aan vir opgraderings in Knysnaweg

Die volgende fase van munisipale padopgraderings in George wat ‘n uitwerking op die GO GEORGE-busdiens sal hê, begin op Maandag 3 Februarie 2020. Hierdie werk aan die padoppervlak tussen Eerste- en Vierdestraat in Knysnaweg behels ’n asfalt-sluitlaag bo-oor al vier bane en sal na verwagting teen die einde van Februarie of vroeg in Maart voltooi wees.
Aangesien die werk in een laan en een blok op ’n keer gedoen sal word, word geen of minimale herleiding van roetes verwag. Weens stadiger enkelbaan-verkeer moet vertragings egter te wagte wees oor die hele stelsel en veral op roetes wat die oostelike dele van die dorp bedien.

Bushaltes tydelik gesluit

Bushaltes wat hierdeur geraak word, sal vir kort periodes op ’n keer gesluit word en passasiers word aangeraai om gedurende hierdie tye van naburige bushaltes gebruik te maak. Bushaltes in Knysnaweg wat met tussenposes geraak sal word is Mission 620 en 222, Third A 494 en 495, en Fourth B 710. Plakkate wat passasiers bedag maak op die situasie is by hierdie bushaltes aangebring.

GO GEORGE maak verskoning vir die ongerief en doen ’n beroep op padgebruikers om geduldig en versigtig te wees naby die konstruksiegebied en bushaltes. Passasiers wat raad benodig oor beskikbare bushaltes kan gerus die GO GEORGE-inbelsentrum skakel by 0800 044 044.


Previous Article

Next Article