GO GEORGE pas roetes aan vir Outeniqua-rolstoeluitdaging

Georgie vermaak Kapenaars gedurende OCCOCC

Die gewilde GO GEORGE-gelukbringer Georgie het vir groot vermaak gesorg tydens verlede jaar se rolstoelwedren. Hy sal Saterdag weer by die wegspringpunt wees om vir selfies te poseer saam met sy bewonderaars.

GO GEORGE sal sekere roetes tydelik herlei om plek te maak vir die atlete wat deelneem aan die Outeniqua-rolstoeluitdaging (OCC) op Saterdag 14 September 2019.

Twee padsluitings’n Gedeelte van Knysnaweg tussen die Garden Route Mall en CTM, in die rigting van die dorp, sal Vrydagaand vanaf 20:00 tot Saterdag 13:00 gesluit word, wat geringe afwykings op Roete 7 CBD-Mall en Roete 24 CBD-Loerie Park-Mall tot gevolg sal hê.In Yorkstraat sal die gedeelte tussen Stanmar Motors en PW Botha Kollege Saterdag gesluit word vanaf 05:00 tot 11:00. Dit noodsaak alle busse vanaf Pacaltsdorp wat via Yorkstraat dorp toe ry om gedurende daardie tyd herlei te word. Dieselfde geld vir Roete 9 Industrial Loop wat ook normaalweg deur Yorkstraat ry.

Volledige inligting

Pamflette met besonderhede van die roete-aanpassings, alternatiewe bushaltes wat gebruik kan word en roetekaarte word vir die hele week voor die wedren op die geraakte roetes versprei. Plakkate is ook by die bushaltes wat tydelik gesluit sal word geplaas sodat passasiers nie op die betrokke dag onverhoeds betrap word nie.

GO GEORGE-bestuurder, James Robb doen ‘n beroep op die publiek en passasiers om die geleentheid aan te gryp en rolstoelatlete van regoor Suid-Afrika en verskeie ander lande welkom te laat voel in George.

“Om hierdie groot gebeurtenis te akkommodeer, verg fyn beplanning en voorbereiding aan ons kant, maar dit is ‘n voorreg om hierdie vaardige, entoesiasties atlete op wiele op hierdie manier te ondersteun. Hulle inspireer ons regtig,” sê hy. “Daarom versoek ons ook ons passasiers om die vyf ure van ongerief een keer ‘n jaar in ‘n goeie gees te verdra en die atlete aan te moedig en toe te juig. Ons personeel het hulp aangebied om die atlete te ondersteun, van ‘n waterpunt wat hulle gaan beman, rolstoele stoot vir die pretloop en die aansporing van die langafstandatlete wanneer in hulle in Pacaltsdorp aankom.”

Vertragings op alle busroetes verwag

Passasiers moet kennis neem dat vertragings op alle busroetes verwag word, nie net dié wat herlei word nie, as gevolg van enkellaan-verkeer in sekere gebiede, verkeer wat herlei word, opeenhopings by die kruisings in Yorkstraat, sowel as herleide roetes wat langer in afstand is as die normale roetes.

Spring vroeg weg

Robb moedig passasiers aan om hul ritte voor die tyd te beplan en om vroeër as gewoonlik te vertrek om steeds betyds by die werk te kom. “In sommige gevalle kan dit ook langer neem om werk toe te stap nadat jy van die bus afgeklim het, so hou dit asseblief ook in gedagte,” vra hy.

Vir meer inligting, besoek gerus die GO GEORGE Facebook-blad of skakel die inbelsentrum betyds by 0800 044 044 vir hulp met roetebeplanning.


Previous Article

Next Article