GO GEORGE het verlede week begin met die aanbring van die nuutste paalplakkers met roetekaarte en tydroosters by die oorklimbushaltes. Dit volg op die finalisering van die huidige busroetes ná maande van verfyning en verbetering van roetes en skedules om by passasiers se behoeftes aan te pas.
Elke bushalte het sy eie stel plakkers wat slegs die tydrooster en roetekaarte van roetes wat by daardie halte stop, toon. Aan die een kant is ‘n lynkaart van die roetes wat by daardie bepaalde halte stilhou, en ‘n stelselkaart wat die passasier ‘n oorsig gee van waar die verskillende roetes loop en waar hulle kan oorklim tussen roetes om hul bestemming te bereik. ‘n Rooi pyl op albei kaarte dui die bepaalde bushalte aan (“You are here”).
Die ander kant van die paalplakker toon die volledige tydroosters vir al die roetes wat by daardie bushalte stop, asook genoeg inligting om die benaderde tyd wanneer die volgende bus behoort te arriveer, te bereken. Hier is ook maklik verstaanbare aanwysings van hoe om die tydroosters te lees en te vertolk.
Tydroosters en roetekaarte was nog altyd beskikbaar op die GO GEORGE-webblad, maar om hulle nou beskikbaar te hê by die bushalte waar almal dit kan sien, sal passasiers in staat stel om hul ritte beter te beplan, en selfs om ‘n aanduiding te hê van wanneer om die volgende bus te verwag.
Vir enige busverwante navrae, skakel gerus die GO GEORGE-inbelkantoor by 0800 044 044 of besoek die Facebook-blad.