Dié twee verheugde passasiers was van die eerstes wat Maandag hul weg maklik kon vind op die nuwe paalplakkers by die Beach A-bushalte. Sarah Sparks van Europe en Eden Kissan van Harmony Park sê die verduideliking op die plakker is so eenvoudig dat hulle maklik kon uitwerk wanneer die volgende bus daar gaan wees.
GO GEORGE het vandeesweek begin met die oprig van paalplakkers met roetekaarte en tydroosters by die oorklimbushaltes. Dit volg op die finalisering van die huidige busroetes ná maande van verfyning en verbetering van roetes en skedules om by passasiers se behoeftes aan te pas.
“Natuurlik sou dit vir almal baie makliker gewees het as ons hierdie inligting van die begin af ten toon kon stel, maar die stelsel het onlangs eers die vlak van stabiliteit bereik waar ons gemaklik voel om geld te spandeer op die ontwerp en druk van paalplakkers,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder.
Volgens Robb het elke bushalte sy eie stel plakkers wat slegs die tydrooster en roetekaarte van roetes wat by daardie halte stop, toon. Aan die een kant is ‘n lynkaart van die roetes wat by daardie bepaalde halte stop, en ‘n stelselkaart wat die passasier ‘n oorsig gee van waar die verskilende roetes loop en waar hulle kan oorklim tussen roetes om hul bestemming te bereik. ‘n Rooi pyl op albei kaarte dui die bepaalde bushalte aan (“You are here”).
Die ander kant van die paalplakker toon die volledige tydroosters vir al die roetes wat by daardie bushalte stop, asook genoeg inligting om die benaderde tyd wanneer die volgende bus behoort te arriveer, te bereken. Hier is ook maklik verstaanbare aanwysings van hoe om die tydroosters te lees en te vertolk.
Tydroosters en roetekaarte was nog altyd beskikbaar op die GO GEORGE-webblad, maar om hulle nou beskikbaar te hê by die bushalte waar almal dit kan sien, sal passasiers in staat stel om hul ritte beter te beplan, en selfs om ‘n aanduiding te hê van wanneer om die volgende bus te verwag.
Die besige oorklimhaltes is die eerstes wat paalplakkers kry, met die res wat daarna sal volg.
“Soos wat die stelsel ontplooi word in die res van die dorp, sal ons dieselfde prosedure volg van roetes eers te verfyn, en dit dan af te rond met inligting op die pale sodra ons gereed is,” sê Robb.