GO GEORGE-passasiers se mening gevra gedurende Vervoermaand

20
Oct '20
Passasiers meningspeil
Die onafhanklike span data-opnemers is Maandag by die Blanco-terminus ontplooi om GO GEORGE-passasiers se mening te vra oor hul gebruik en belewenis van die busdiens. Hier werk Mauchan Koelman (regs) deur hul vraelys met Winnie Smith van Parkdene. Links is Zola Bityi, ‘n GO GEORGE-passasiersbeampte wat haar beurt afwag om Winnie oor die nuwe skedule vir mobiele Slimkaartvoertuie in te lig.

‘n Onafhanklike GO GEORGE-gebruikersopname om die sosio-ekonomiese en befondsingsimpak van die openbare vervoerstelsel te meet, sal van 19 Oktober tot 13 November 2020 regoor George gedoen word. Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, sal die studie vergelyk word met vorige studies om die werklike impak van die stelsel in George te bepaal.

“Terugvoer van ons passasiers was nog altyd die kern van ons beplanning en verbetering van die stelsel. Ons kan beplan en implementeer met al die data tot ons beskikking, maar ons moet weet of ons aan ons gemeenskappe se behoeftes voldoen en of die busdiens lewensgehalte en toegang tot ekonomiese geleenthede verbeter. Dit is waaroor die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk (GIPTN) gaan,” het Robb gesê.

Die beplande opname is ‘n voortsetting van ‘n onafhanklike sosio-ekonomiese studie wat in 2018 en 2019 in George onderneem is onder die gesamentlike beskerming van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke en die George-munisipaliteit. Dit was 10 jaar nadat ‘n grondstudie – insluitende ‘n ekonomiese doeltreffendheidsbepaling, makro-ekonomiese analise en ‘n sosio-ekonomiese opname vir die instelling van geskeduleerde openbare vervoerdienste in George – onderneem is. Daar was ‘n behoefte om dit weer te meet in 2018 en om dit te vergelyk met die vorige studies om werklike impak vir toekomstige evaluering te bepaal. Dit is in 2019 en nou weer in 2020 opgevolg met gebruikersopnames.

Onafhanklike, opgeleide data-opnemers met toepaslike identifikasiekaarte sal by bushaltes geplaas word om die opname deur middel van ‘n opname-toepassing (app) te doen. Meer inligting kan verkry word deur die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel.

Latest news