Die jongste resultate van ‘n jaarlikse passasierstevredenheidsopname wat onder gebruikers van die GO GEORGE-busdiens gedoen is, het bevestig dat die meeste passasiers hoogs tevrede is met die GO GEORGE-diens en die geleenthede wat dit bied ten opsigte van toeganklikheid en mobiliteit. Hulle waardeer die buigsaamheid van die stelsel en sê dit is veiliger en meer bekostigbaar as hul vervoer voor die implementering van die GO GEORGE-diens.
Die opname wat namens GO GEORGE deur navorsingspesialiste op sosio-ekonomiese gebied gedoen is, het ten doel om die algehele sosio-ekonomiese impak van GO GEORGE te bepaal, insluitend makro-ekonomiese en vervoer-ekonomiese impak.
Volgens Morné Lakay, waarnemende GO GEORGE-bestuurder, word die uitkoms van die opname vergelyk met vorige resultate as maatstaf en om GO GEORGE te lei ten opsigte van spesifieke areas wat aangespreek moet word. “Sodoende werk ons voortdurend daaraan om algehele gebruikerstevredenheid te verbeter en ‘n betroubare, bekostigbare stelsel van hoë gehalte te verseker wat die behoeftes van alle gebruikers aanspreek – bestaande sowel as potensiële toekomstige gebruikers,” het hy gesê.
Die meeste tellings het aansienlik verbeter teenoor die vorige jaar, wat die voortgesette verbintenis van GO GEORGE bevestig om ‘n openbare vervoerdiens van hoë gehalte te lewer, wat ‘n positiewe passasierservaring tot gevolg gehad het.
Veiligheid op die bus behaal byna 100%
99,63% van mense wat ondervra is, het aangedui dat hulle veilig voel op die GO GEORGE-busse.
Lakay sê dié “vertrouensverklaring” sou onder normale omstandighede gevier word. “Die voorval vroeër vanjaar van die petrolbomaanval op ‘n bus wat passasiers vervoer, werp egter ‘n skaduwee oor hierdie positiewe uitslag wat einde verlede jaar aangeteken is. Tog is die busdiens nie kwesbaar as gevolg van een geïsoleerde voorval nie. Kriminaliteit is uiteindelik ‘n sosiale kwessie wat aangespreek moet word en hoewel GO GEORGE nie beheer oor kriminele optrede van buite het nie, wil ons so ver moontlik ‘n veilige reiservaring vir ons passasiers bied en sal ons voortdurend hulpbronne en pogings om dit te doen, versterk,” het hy gesê.
Toeganklikheid
Met toeganklikheid ‘n hoë prioriteit vir GO GEORGE, was dit verblydend om te verneem dat die meeste passasiers met gestremdhede en ander spesiale behoeftes GO GEORGE baie toeganklik vind, by bushaltes én op die busse, wat aan hul reisbehoeftes voldoen. Dit was interessant om te sien dat 35% van die deelnemers aangedui het dat hulle spesiale behoeftes het wanneer hulle reis. Dit sluit in mense wat gestremd, bejaard of swanger is, met klein kinders reis, of wat ’n probleem met beweeglikheid het.
Bekostigbaarheid
Deur GO GEORGE te gebruik, het 92% van die passasiers met wie onderhoude gevoer is, opgemerk dat hulle minder betaal vir vervoer as voorheen. Die feit dat passasiers nie binne een uur vanaf die aanvang van hul rit weer betaal om tussen busse oor te klim nie, dra aansienlik by tot die vermindering van hul maandelikse vervoerkoste.
“Hierdie soort terugvoer maak ons harte warm,” het Lakay gesê. “Die prioritisering van belegging in openbare vervoer is nie meer net gaaf nie; dit is ‘n absolute noodsaaklikheid. Die regering subsidieer openbare vervoer – GO GEORGE-ritte ingesluit – sodat niemand ‘n werksgeleentheid hoef weg te wys omdat hulle nie kan bekostig om werk toe te ry nie.”