Die maand November word daaraan gewy om bewustheid te skep van die regte van persone met gestremdhede. Die GO GEORGE-busdiens sluit jaarliks aan by die regering se nasionale veldtog om bewustheid te verhoog deur ‘n spesiale program van aktiwiteite in die gemeenskap en die media.
Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, is die busdiens se konstante fokus op gestremdheid en maniere om die reiservaring van passasiers met spesiale behoeftes te verbeter, in werklikheid baie meer as ‘n maandlange veldtog een keer per jaar.
“Bewustheid van gestremdheid en die akkommodering daarvan is voorop in ons gedagtes, die hele dag. Om te dink ons kry dit elke dag en elke keer reg, is wensdenkery, maar ons doen ons bes om passasiers met gestremdhede en ander spesiale behoeftes so ver as moontlik in ag te neem en te akkommodeer. Natuurlik is daar tye wanneer ons dit nie regkry nie, en daarom waardeer ons terugvoer en betrokkenheid van ons passasiers,” sê Robb.
“Daar was al kere wanneer ons bestuurders versuim het om ‘n blinde passasier by ‘n bushalte op te tel, of wanneer ons skuins loopvlakke nie ontplooi het nie. Uit hierdie voorvalle het ons ‘n paar waardevolle lesse geleer, dinge soos die verandering van die manier waarop ons bestuurders passasiers vir wie hulle moet stop en oplaai, identifiseer. Die standaard praktyk is dat die passasier moet hand opsteek vir die toepaslike bus wanneer hulle dit sien nader kom – die blinde persoon kan dit nie doen nie, so ons kyk weer na ons opleiding, klantesorg, interne operasionele prosedures, naamborde en beleide.
“Ons wil alle vorms van gestremdheid akkommodeer en ‘n gebruikersvriendelike diens skep. Dit is ons missie, maar ons kan dit nie bereik sonder die insette en ondersteuning van ons passasiers met spesiale behoeftes nie. Ons benodig terugvoer oor hul reiservaring sodat ons ons diens kan verbeter en dinge volgende keer beter kan doen.”
GO GEORGE is besig met ‘n proses om ‘n fokusgroep te vestig wat sal bestaan uit passasiers met spesiale behoeftes en mense wat in die gestremdheidsektor werk, om te adviseer, konsulteer en deurlopende terugvoer te gee oor sake wat verband hou met die gebruikersvriendelikheid en universele toeganklikheid van die busdiens.
Robb nooi passasiers met gestremdhede om te laat weet hoe hulle deur die dorp beweeg, om hul persoonlike ervaring met die gebruik van die busdiens te deel, of om voorstelle vir die verbetering van die diens te maak. Stuur ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za of laat ‘n boodskap by die GO GEORGE-inbelsentrum (0800 044 044) sodat jy teruggebel kan word.