GO GEORGE het verfynings aan hul huidige skedule vir mobiele Slimkaartvoertuie aangekondig om passasiers wat nie binne maklike bereik van vaste herlaaifasiliteite is nie, te akkommodeer.
Die Slimkaart is tans die enigste manier van betaling vir ritte sedert die aanvaarding van ‘n geen-kontantbeleid in Junie vanjaar as een van die busdiens se Covid-19-voorsorgmaatreëls. Passasiers kan hul kaarte met ritte herlaai by enige van die vaste Slimkaartkiosks of besighede / individue wat as herlaaipunte geregistreer is, of by een van die twee Slimkaartvoertuie wat deur die dorp rondbeweeg en parkeer volgens ‘n vaste weeklikse skedule.
Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, het die oneweredige verspreiding van herlaaipunte in die verskillende gebiede van die dorp die hersiening van die mobiele skedule genoodsaak. “Ons is tans besig met ‘n werwingsveldtog vir mense en sakeondernemings wat as herlaaipunte kan registreer, juis om die behoeftes van passasiers in alle gebiede aan te spreek. Intussen het ons die verkoopsyfers van alle mobiele parkeerplekke ontleed en opgeweeg teen gebiede met ‘n lae voetspoor van herlaaipunte, en ‘n nuwe skedule opgestel waarby ons werklik vertrou ons passasiers sal baat vind.”
Die nuwe skedule sal op Woensdag 21 Oktober 2020 geïmplementeer word.
Robb sê passasiers vra gereeld wanneer en of die diens sal terugkeer na die opsie van kontant as alternatief vir die gebruik van die Slimkaart. “Navorsingsresultate wat vandeesweek vrygestel is, dui aan dat die virus vir so lank as 28 dae op harde oppervlakke soos glas en metaal asook papierbanknote kan oorleef. Daar is voorheen gemeen dat die oorlewingstydperk baie korter is. Daarom sal ons eerder planne maak om die herlaaidiens na ons passasiers toe te neem as om hul gesondheid sowel as dié van ons busbestuurders wat die kontant sal moet hanteer, te waag.”
Die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes sal vanaf Woensdag 14 Oktober pamflette met die nuwe skedule versprei. Die pamflette sal ook by alle Slimkaartkiosks en -mobiele voertuie beskikbaar wees, asook die inligtingskiosk by die Vervoerkern (Transport Hub). Passasiers kan ook die GO GEORGE Facebook-blad besoek vir die mobiele skedule en die nuutste busverwante nuus, na die webwerf se Travel Cost-bladsy te gaan, ‘n e-pos skryf aan info@gogeorge.org.za, of die inbelsentrum by 0800 044 044 skakel om navraag te doen oor hul naaste mobiele dienspunt.