PACALTSDORP ROADWORKS

Road upgrades starting in Pacaltsdorp on Monday 14 October 2024 will impact several GO GEORGE bus routes.

GO GEORGE verfyn steeds roetes

2
Jan '17

Met die aanpassings vir die feesseisoen wat op Saterdag, 7 Januarie 2017 tot ‘n einde kom, val GO GEORGE op Sondag 8 Januarie weg met nog roeteverfynings. Hierdie verfynings is gebaseer op passasiersaanvraag en optimalisering van die vervoerstelsel, en sluit etlike tydroosterveranderings, ‘n paar roeteveranderings of – toevoegings en verandering van bustipes in. Die goeie nuus is dat Roete 14 Pacaltsdorp – Industria voortaan deur groot busse bedien sal word tydens spitstye om seker te maak dat daar genoeg plek is vir passasiers, en dat Syferfontein passasiers weer ‘n direkte roete, via Rosedale, dorp toe sal hê.

Tydroosterveranderings

Die nuwe tydroosters sal by bushaltes en op busse aan passasiers uitgedeel word, en kan ook op die GO GEORGE-webblad, www.gogeorge.org.za, besigtig word. Veranderde tydroosters vir die volgende roetes skop op 8 Januarie in:

Roete 1B Harmony Park – CBD

Die interval tussen busse tussen 15:00 en 18:00 is verklein van 30 minute na 20 minute, wat drie bykomende ritte gedurende die namiddagspitstyd beteken.

Roete 60 Rosedale – CBD

Nuwe tydrooster

Roete 9 Industria – CBD en Roete 14 Pacaltsdorp – Industria

Nuwe tydroosters is vir hierdie twee industriële roetes opgestel, en sekere ritte verander van rigting. GO GEORGE-helpers sal op die roetes wees om passasiers te lei en in te lig oor rigtingveranderings, hetsy kloksgewys of antikloksgewys. Gedurende oggenspitstyd op weeksdae, vertrek Roete 9 nou uit die middedorp om 06:00, 06:20, 06:40, 07:00, 07:20, 07:40 en 08:00. Roete 14 vertrek vanaf die Heather-bushalte om 05:30, 05:58, 06:32, 07:00, 07:32 en 08:02. Die eerste rit en elke alternatiewe rit wat hier genoem word, ry kloksgewys; die res ry antikloksgewys.

Roete 12 Pacaltsdorp – Garden Route Mall

‘n Ekstra oggendrit wat om 06:20 vanaf die Heather-bushalte vertrek, word bygevoeg. Gedurende oggenspitstyd op weeksdae, vertrek busse nou vanaf die Heather-bushalte om 06:20, 07:00, 07:40 en 08:20.

Roete 2 Blanco – CBD

Die tydrooster wat gebruik is voor die vakansie-aanpassings van 18 Desember sal weer op hierdie roete geld.

Roete 58 Heatherpark – Heatherlands

Nuwe tydrooster

Roete 53 Rosemoor

Die duur van spitstydritte is verleng om aan te pas by spitstydbehoeftes en die ware aankomstyd van busse. Roete 53A Rosemoor sal nie meer as ‘n onafhanklike roete funksioneer nie, maar aanhaak by Roete 24 Loeriepark vir drie oggend- en drie namiddagritte op weeksdae. Hierdie Roete 2453A sal volgens die normale Roete 24 ry van die middedorp na die Garden Route Mall, waar dit sal oorskakel na die voormalige Roete 53A deur Rosemoor na die middedorp. Die oggendritte sal om 05:50, 06:50 en 07:50 uit die middedorp vertrek.

Roete 53B Rosemoor het tot nou net Saterdae gery. Vanaf 8 Januarie sal hierdie roete ook van Maandag tot Vrydag ry, maar volgens ‘n ander tydrooster as Saterdae. Dit ry vanaf die Garden Route Mall, agterom Eden Meander met Parkweg langs, dan langs Triumphstraat, Millerstraat, Woltemadestraat, Beerstraat, Attakwastraat, Missionweg, Knysnaweg, Yorkstraat en Markstraat tot by die Rosemoor-halte in Cradockstraat. Die terugrit volg dieselfde roete. Twee nuwe bushaltes is in Rietbokstraat gebou vir passasiers op hierdie roete. Passasiers wat in die omgewing van Roete 53B woon, word aangemoedig om hierdie roete te gebruik en sodoende baie vinniger by hul bestemmings uit te kom as met die oorspronklike Roete 53.

Syferfontein-roetes

Twee nuwe roetes, 60A en 61A, sal voortaan die behoeftes van die Syferfontein-gemeenskap diens. Roete 60A Syferfontein – CBD (via Rosedale) sal by die Batallion-bushalte in Olympicstraat vertrek en via Beachweg Rosedale toe ry, en van daar af dorp toe. Van 05:30 tot 20:30 sal daar omtrent elke uur ‘n bus wees, met die laaste een wat uit die middedorp terugry, wat om 20:42 vanaf die Mispel-bushalte in Markstraat sal vertrek, sewe dae per week.

‘n Nuwe gemeenskapsroete, Roete 61A Syferfontein, word ook in werking gestel. Voor 12:00 sal hierdie roete by die Syfer-bushalte vertrek en links draai in Llamastraat om deur Delvillepark na die Panther-bushaltes te ry, vanwaar dit terugry via Square Hill- en Olympicstraat. Ná 12 sal die omgekeerde roete gevolg word deur links te draai in Square Hillstraat uit Olympicstraat. Hierdie roete ry van Maandag tot Saterdag, met ‘n bus wat elke 20 minute vertrek vanaf 05:05 tot 19:05.

GO GEORGE-helpers sal by betrokke bushaltes en op busse wees om passasiers by te staan vanaf Maandag, 9 Januarie 2017. Vir enige navrae, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 tussen 05:00 en 21:30 daagliks.

Latest news