Kleurvolle verjaarsdagbaniere op sentrale plekke in die dorp herinner inwoners sedert verlede week dat GO GEORGE al ses jaar deel van die gemeenskap is. Die GO GEORGE- kommunikasiespan en -passasiersdiensbeamptes (toepaslik gemasker en met genoeg onderlinge afstand) het onder die banier by die Vervoerkern (Hub) in Cradockstraat vergader om die busdiens entoesiasties toe te juig.
Ses jaar het verbygegaan sedert die eerste geskeduleerde busse van George se eie openbare busdiens op 8 Desember 2014 om 05:00 uit die Yorkstraat-depot vertrek het. Dit was ‘n grootse geleentheid toe die eerste vier roetes na Rosemoor, Denneoord en Loeriepark, en na die Garden Route Mall die strate inry – Fase 1 van die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk is uitgerol.
“Ons sou later nog soveel leer en ervaar, maar ons was geweldig trots en opgewonde en het steeds nie daardie eerste entoesiasme en passie verloor nie,” sê GO GEORGE-bestuurder, James Robb.
Sedert die jongste ontplooiing na Parkdene, Conville, Borcherds en Lawaaikamp in Maart vanjaar deurkruis 26 aktiewe roetes – ‘n netwerk van 142 km – nou die strate van George en stel dit inwoners in staat om werk toe, skool toe, na mediese- en gemeenskapsdienste en winkels oral in die dorp te ry.
Die Uitvoerende Burgemeester van George, raadsheer Leon van Wyk, het GO GEORGE gelukgewens en gesê dat hierdie verjaarsdag met trots gevier behoort te word. “Ek sal altyd inwoners se positiewe kommentaar in daardie vroeë dae onthou toe hulle veilige beweeglikheid en toegang tot winkels en gemeenskapsgeleenthede verkry het op ‘n manier wat hulle nie voorheen beskore was nie. Die bestuurspan moet met hierdie verjaarsdag gelukgewens word aangesien hulle met trots streef na erkenning as ‘n uitstekende busstelseloperateur,” het hy gesê.
Volgens Robb was die ontplooiing van die oorblywende fases van die diens meer uitdagend as wat verwag is, “maar ons is positief en sien uit daarna om voort te gaan met die uitbreiding van die diens.”
“’n Ander soort verjaarsdag”
Die gebruiklike verjaarsdagviering met passasiersdiensbeamptes in kleurvolle kostuums wat regoor die dorp ‘n vrolike geraas maak en lekkernye uitdeel, kan weens Covid-19-veiligheidsvoorsorgmaatreëls nie vanjaar plaasvind nie.
“Ons fokus is vanjaar anders,” sê Robb. “Ons dink aan diegene wat geliefdes, hul inkomste, die dak oor hul koppe verloor het.
“Ons wil ons passasiers en ons personeel bedank, ook alle rolspelers in die bedryf van die diens, die staatsdepartemente wat ons pogings om die pandemie te bekamp, befonds – sommige vir hul geduld en samewerking, sommige vir hul ondersteuning en lang ure se werk, ander vir hul moed om hul pligte uit te voer ten spyte van die risiko daaraan verbonde. Ons kon nie hierdie mylpaal bereik het sonder mense wat omgee nie.”
Passasiers word weereens daaraan herinner om te voldoen aan die eenvoudige maar doeltreffende Covid-19-veiligheidsmaatreëls wat op die bus vereis word: die dra van ‘n masker wat beide die mond en neus bedek, ontsmet of was van hande, handhawing van ‘n veilige afstand waar moontlik, oop busvensters vir goeie ventilasie, nies of hoes in ‘n geboë elmboog, om nie bus te ry wanneer jy siek is nie, buite spitstye te ry, en om nie die bus te gebruik vir nie-noodsaaklike ritte nie.
George se Uitvoerende Burgemeester, raadsheer Leon van Wyk (middel agter), het onlangs ‘n besoek aan die busdepot gebring en was gefassineerd om by die personeel te hoor hoe die kantien gebou en tot stand gebring is en self deur George Link-aandeelhouers bedryf word. “Hierdie is die soort geleentheid wat GO GEORGE na ons inwoners bring,” het hy gesê.