Gratis ritte vir alle Slimkaarthouers wanneer nuwe roetes uitrol

Jakoba Pieterse

Jakoba Pieterse (61) woon in Borcherds en is ’n ou hand as dit kom by die gebruik van haar Slimkaart – sy ry taxi tot in die middedorp en neem van daar af ’n bus vir die res van haar reis werk toe. "Ek kan omtrént nie wag om vir net een rit te betaal wanneer die busse na my buurt toe kom nie. En die verniet ryery – dit voel soos Krismis!" sê sy.

Alle GO GEORGE-passasiers met Slimkaarte sal deel word van die feesviering wanneer die diens uitrol na Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp op 28 April 2019. Nie slegs die passasiers op die nuwe roetes sal bederf word met drie dae se gratis ritte nie – alle Slimkaarthouers, regoor die stad, sal van 28 tot 30 April 2019 gratis bus ry wanneer hulle hul Slimkaarte toon met die opklimslag.

“Ons wil die passasiers op ons nuwe roetes aanmoedig om hul GO GEORGE Slimkaarte so gou moontlik te kry en te laai met ritte sodat hulle sommer gereed is wanneer die wiele in hul rigting begin rol,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Dis onnodig om R12 te betaal om ’n kontantrit op die bus te koop as jy so min as R9 kan betaal. Wanneer ’n persoon 10 of meer ritte per keer herlaai, is die koste R9 per rit, en R10 per rit wanneer jy minder as 10 ritte laai – steeds ’n besparing van R2.”

Die Slimkaartspan is aktief besig met die werwing van nuwe herlaaipunte (vendors) in die gebiede op die nuwe roetes en GO GEORGE sal hierdie name aankondig sodra hulle gereed is om ritte te begin verkoop.

Intussen kan passasiers hul Slimkaarte by enige van die volgende Slimkaartkiosks koop: Garden Route Mall, George-vervoerkern (Hub) in Cradockstraat, die Blanco-driehoek, die kiosk langs die glasgebou in Yorkstraat, asook by die twee Slimkaartvoertuie wat kaarte en ritte verkoop by punte regoor die stad. Die skedule van die mobiele voertuie word uitgebrei om die areas op die nuwe roetes in te sluit en pamflette met hierdie inligting sal binnekort in die gemeenskap versprei word.

Vir kopers wat ’n amptelike vorm van identifikasie kan toon, geld die eerstekaartprys van R20 en sluit steeds twee voorafgelaaide ritte in. Die normale prys van die kaart is R40, sonder enige voorafgelaaide ritte.

Vir meer inligting, skakel die GO GEORGE-inbelsentrum op 0800 044 044, stuur ’n e-pos aan info@gogeorge.org.za of besoek die GO GEORGE Facebook-blad waar relevante en handige inligting deurlopend gedeel word.


Previous Article

Next Article