Aangesien GO GEORGE ‘n groeiende stelsel is wat in fases ontplooi word, is verbeterings aan die roetes en skedules deel van die proses om die stelsel rondom die behoeftes van sy kliënte aan te pas.
Alle roetes spring weg as toetsroetes wat so goed moontlik nagevors en beplan word. Die ware toets kom egter wanneer passasiers die stelsel begin gebruik en waardevolle terugvoer aan die GO GEORGE-bedryfspan gee. Wan-neer hulle teruggaan tekenbord toe, word die behoeftes van ander areas wat deur die stelsel bedien word, die geskatte behoeftes van fases wat nog uitgerol moet word, die pad-infra-struktuur en beskikbare bronne (soos busse en gekwalifiseerde busbestuurders) alles in ag geneem voordat ‘n stel roeteverfynings aange-kondig word.
Al sou verfynings in ‘n spesifieke gebied lyk of dit afgehandel is, kan ‘n nuwe winkelsentrum skielik in die dorp oopmaak en werksgeleent-hede skep, wat uiteraard ‘n uitwerking sal hê op die reisbehoeftes van daardie gemeenskap. GO GEORGE luister dan weereens na die terug-voer, en pas aan waar moontlik.
Sodra al die fases ontplooi en verfyn is, sal daar meer stabiliteit wees, maar aangesien George ‘n groeiende en ontwikkelende stad en ekonomiese spilpunt in die streek is, sal die busstelsel nooit rigied wees nie, maar aanhou aanpas om die hele gemeenskap die openbare vervoerdiens te gee wat hulle verdien.