Hoe om die naamborde te lees

16
May '16

Een van die basiese elemente van die GO GEORGE-busstelsel wat passasiers moet verstaan, is die naambord by die bushalte. Elke halte word aangedui met ‘n bord bo-aan ‘n paal, wat waardevolle inligting verskaf.

Die bushalte se naam is altyd afgelei van die naaste straat wat die een waarin die bushalte geleë is, kruis. Hierdie naam staan bo-aan die bord. Aan die linkerkant, afwaarts, is die nommer van die bushalte, wat dit maklik maak om ‘n presiese beskrywing van die bushalte te gee indien jy vir iemand aanwysings wil gee. Hierdie nommer moet ook vermeld word wanneer jy ons inbelsentrum (0800 044 044) skakel om navraag te doen oor die aankomstyd van die volgende bus, of vir enige ander roeteverwante inligting.

Regs onder op die bord is ‘n lys van die nommers van al die roetes wat by daardie halte stop. Maak seker dat die roete waarop jy wil reis wel daar gelys is. Indien nie, skakel die inbelsentrum en vra vir hulp. Wanneer die bus met die relevante roetebeskrywing op sy digitale bestemmingsbord (voorop en aan die deurkant van die bus) aankom, moet jy vorentoe tree en met jou hand in die lug aandui dat jy wil hê die bus moet stop. Aangesien verskeie roetes dieselfde bushalte gebruik, stop busse net wanneer passasiers aandui dat hulle op daardie bus wil klim. Dit verkort die reistyd op die busse as hulle nie onnodig hoef te stop by elke halte nie.

Die wit plastiek-“kraag” aan die paal is ontwerp om roete-inligting en tydroosters te vertoon. Hierdie inligting sal die beplanning van jou rit baie makliker maak. Die laaste reeks roeteverfynings op die huidige drie fases van die stelsel is pas afgehandel en stel ons in staat om die finale ontwerp, druk en aanwending van hierdie inligtingstukke nou aan te pak.

Latest news