Om operasionele nakoming van die skedule en bedryfsvoorskrifte binne ’n stelsel so groot soos die GO GEORGE-busdiens te moniteer, vra meer as die gewone grootoog-Ouboet. Om sin te maak uit 450 000 data-inskrywings per dag en beheerkameroperateurs se aandag pro-aktief te vestig op potensiële probleemsituasies, verg ’n ander soort “monster”.
Volgens James Robb, bestuurder van die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk (GIPTN), is dit waarom ’n baie kragtige Intelligent Transport System (ITS) oor ’n tydperk ingefaseer word om GO GEORGE verder in staat te stel om die beste moontlike gehalte diens te lewer.
“Ons staan verstom oor die omvang van hierdie ITS en die ontsaglike waarde wat dit tot die diens toevoeg,” sê Robb. “Die stelsel moniteer die werksverrigting van die bestuurder en die voertuig teenoor die tydrooster, in ware tyd. Uiteraard kan alle aktiewe busse nie gelyk dopgehou word nie, maar potensiële probleme word uitgelig vir die operateur se aandag. Sodoende kry die beheerkamer ’n waarskuwing dat ’n bus vroeg of laat loop, sodat George Link met hul bestuurder kan kommunikeer. Dit stel ons in staat om stappe te doen om diensvlak weer te herstel. In geval van ’n tegniese probleem of ’n bus wat onklaar raak, kan dit selfs nodig wees om twee vervangingsvoertuie uit te stuur: een om die gestrande passasiers op te laai, en indien nodig, een om die volgende rit van die onklaar bus te doen.”
Beheerkameroperateurs word opgelei om te onderskei watter waarskuwings voorkeur moet kry, en hoe om noodsituasies te hanteer. ’n Paniekknoppie sal voorkeur geniet bo ’n uitwysing dat ’n bestuurder te skerp rem of te vinnig wegtrek. Laasgenoemde tipe inligting is egter belangrik om gebiede waar meer opleiding nodig is, te identifiseer. Die werksverrigting van busbestuurders word gemeet aan nakoming van die spoedgrens en passasiersgerief.

Die 450 000 data-inskrywings per dag bestaan uit die opdatering van elke voertuig elke 30 sekondes, wat die presiese ligging en spoed daarvan registreer. Die GO GEORGE-netwerk voer 35 000 stoptye per dag uit. Elke stilhou word gepaar met die tydrooster, binne 17 sekondes na elke “polsslag” of opdatering.
Buiten die bevordering van operasionele nakoming van roosters en voorskrifte, stel die ITS ook die GO GEORGE-inbelkantoor- en sosiale media-agente in staat om onmiddellike terugvoer op passasiersnavrae te verskaf. Klagtes word op dieselfde manier ondersoek: toegang tot videomateriaal en ITS-data verskaf die fynste besonderhede oor ’n aangemelde kwessie.
“Tussen al hierdie waardevolle statistiek en waarskuwings oor afwykings, bly die grootste sonde ’n bus wat te vroeg by ’n bushalte vertrek,” sê Robb. “Die oomblik wat die ITS ’n vroeë bus waarneem, verskyn ’n rooi waarskuwingsvlag bo-aan die lys van uitwysings. Min dinge ontstel ’n passasier so erg as om betyds by ‘n bushalte op te daag en uit te vind jou bus het vroeg vertrek. En met reg. Maar die ITS bemagtig ons om ons diens aan die gemeenskap wat op ons vertrou om betyds by die werk en die skool te kom, te verbeter. Dit is ’n nimmereindigende, immer ontwikkelende proses. Maar ons is sterk op pad!”