“Elke druppel tel, en elkeen kan ‘n verskil maak,” het George Munisipale Bestuurder Trevor Botha gesê in verband met die munisipaliteit se pogings om die stad se waterbronne te beskerm en die woord te versprei.
Die Tuinroete-dam – wat die groter George-gebied met water bedien – het tot onder 60% op 1 Junie gedaal, wat tot die onmiddellike toepassing van waterbeperkings gelei het om die stad se watersekuriteit te bestuur. Die beperkings is in terme van die munisipaliteit se Droogtebestuursbeleid en is van toepassing op die hele George munisipale gebied wat Uniondale en Haarlem insluit. Die mees onlangse damvlaklesing – wat weekliks op Woensdae geneem word – was 56.22% op 14 Junie.
Mnr Botha het gesê die munisipaliteit het die implikasies van die beperkings op watergebruikers op die munisipale webtuiste en sosiale media-platvorms geplaas, en in plaaslike en streekskoerante en radiostasies geadverteer om die woord te versprei. “Ons gaan ook 60 000 strooibiljette aan inwoners en besighede versprei om plaaslike mense en besoekers van die beperkings bewus te maak, en het ‘n aanlopende kommunikasie- en bewusmakingsprogram om die boodskap te handhaaf.”
Die munisipaliteit het ook ‘n beroep op werknemers gemaak om water by die huis en werk te bespaar. “Ons het reeds ‘n geruime tyd al reënwatertenks vir die was van ons vloot munisipale voertuie en het beperkings op wastye om bronne verder te bespaar.
“Alhoewel die munisipaliteit op die blinkskoon GO GEORGE-busse trots is en dit waardeer dat die operateur, George Link Edms. Bpk., hulle so mooi skoonhou, het ons gevra dat hulle die wasskedule sny om die waterbeperkingsveldtog te ondersteun. Indien die publiek agterkom dat die busse nie soveel soos gewoonlik blink nie, vra ons vir hulle begrip.”
Mnr Botha het’n beroep op inwoners, besighede en besoekers gemaak om water te bespaar en vir ander van die beperkings en die gepaardgaande implikasies te vertel. “Ons vra elke persoon om ons watersekuriteit te beskerm. U kan ‘n tasbare verskil maak deur by die beperkings te hou en seker te maak dat u almal waarmee u in kontak kom daarvan vertel. Rapporteer asseblief alle waterlekke by ons Siviele Ingenieursdepartement aan – by 044 801 9262 en na-ure by 044 801 6300 – sodra u dit opmerk.
“Die munisipaliteit is pro-aktief om hierdie noodsaaklike hulpbron te beskerm en ons vra ons inwoners om dieselfde te doen. Ons het almal water nodig en sal almal op dieselfde wyse geaffekteer word indien dit nie meer beskikbaar is nie – kom ons werk saam om soveel moontlik water te spaar, elke dag, op elke geleentheid,” het Botha gesê.
Die waterbeperkings beteken die volgende maatreëls is onmiddellik van toepassing:
- Meganiese natgooi van tuine word verbied.
- Tuine mag slegs per hand met tuinslange tussen 7nm en 9nm op spesifieke dae natgegooi word.
Huise met gelyke nommers mag slegs op Maandae en Donderdae tuinnatgooi.Huise met ongelyke nommers mag slags op Dinsdae en Vrydae tuinnatgooi. - Die natgooi van alle sportvelde word verbied, behalwe vir gholfbaan-setperke, rolbalbane en krieketblaaie wat daagliks tussen 7nm en 9nm mag natgooi.
- Die was van voertuie met ‘n tuinslang, behalwe deur kommersiële karwasbesighede, word verbied.
- Die skoonmaak van enige buite-oppervlak met water word verbied.
- Die volmaak van swembaddens word verbied.
- Waar eie water vanuit boorgate of reservoirs gebruik word, moet ‘n “EIE WATER”-kennisgewing duidelik sigbaar wees.