Die GO GEORGE-busdiens het gedurende Jeugmaand ekstra moeite gedoen om die Covid-veiligheidsboodskap aan die jeug oor te dra en om bewustheid te skep van die rol wat elke lid van die gemeenskap tydens die pandemie moet vervul.
Om op ‘n veilige manier met leerders te kommunikeer sonder om skole te besoek en groepe kinders toe te spreek, het die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes bushaltes naby die skole besoek om klein, hervulbare botteltjies handreiniger uit te deel. Leerders is ook daaraan herinner om ‘n veilige afstand te hou, hul maskers korrek te dra, beide die mond en neus te bedek, en dit nooit af te haal wanneer hulle met iemand praat nie.
Ook om Jeugmaand te gedenk, is jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 20 genooi om deel te neem aan ‘n gelukstrekking via die GO GEORGE Facebook-blad. Die gelukkige wenner het ‘n GO GEORGE-toerygsak ontvang met ‘n verskeidenheid handelsmerkitems.
Vir meer inligting of enige busverwante navrae, skakel asseblief die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044, besoek hierdie webwerf, of volg die GO GEORGE Facebook-blad vir die jongste nuus- en dienskennisgewings.