Jongste nuus oor Thembalethu-uitrol: roetes binnekort geaktiveer

Voorbereidings vir die GO GEORGE-busdiens om na Thembalethu uit te rol, is goed op dreef, maar die aktivering van dienste na dié gebied het ongelukkig nie die November-doelwit soos beplan bereik nie.

Volgens George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Leon van Wyk, het die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk (GIPTN) ‘n item by ‘n onlangse raadsvergadering ingedien. Die item lui dat die aankondiging van die November-datum kritieke vordering moontlik gemaak het, maar dat meer tyd nodig is om ‘n gladde uitrol te verseker.

“Soos ek in my vorige aankondiging gesê het, sal gesprekke oor bestaande ooreenkomste met belanghebbendes voortgaan,” het Van Wyk gesê. “In die weke ná die aankondiging is nuwe en onrealistiese eise egter deur hierdie partye op die tafel geplaas, waarvan sommige potensiële veiligheidsrisiko’s geskep het wat aangespreek word. Die regering bly verbind tot die vorige ondernemings wat aan albei partye gemaak is, maar die span is nou besig om alle hulpbronne weer in lyn te bring.

“Die uitbreiding van diens aan Thembalethu vind plaas. Ons is letterlik besig om uit te rol. Die meerderheid taxi-operateurs het na vore gekom om hul oorspronklike ooreenkomste na te kom om hul lisensies vir vergoeding in te dien, maar ‘n bietjie meer tyd is ook nodig om hierdie proses te voltooi. Elf bykomende busse is afgelewer; konstruksie van infrastruktuur in Thembalethu is amper voltooi; aanvullende verkoopspunte vir Slimkaartritte word gewerf. Thembalethu-passasiersdiensbeamptes is aangestel en reik reeds uit na voornemende passasiers, en inwoners sal binnekort busse sien wat deur die gebied ry om roetes en tydskedules te toets,” het Van Wyk gesê.

Die raadsbesluit bepaal dat diens so gou moontlik moet uitrol met ‘n verdere aankondiging wat minstens een week voor die aktivering van die roetes gedoen moet word.


Previous Article

Next Article