Voorbereidings vir busdiens na Thembalethu oral in die dorp sigbaar

Die GO GEORGE-kommunikasiespan besoek besighede en organisasies om die beplande diens aan personeel wat in Thembalethu woon, te verduidelik. Hier is hulle in gesprek met personeel by die Norgarivier-kwekery.

Plakkate by bushaltes in die dorp wat Thembalethu-passasiers verwelkom; bushaltes en operasionele fasiliteite binne Thembalethu wat voltooiing nader; passasiersdiensbeamptes in gesprek met voornemende passasiers … Dit is maar enkele van die sigbare tekens dat GO GEORGE gereed maak om diens na hierdie gemeenskap uit te brei. Inwoners van Thembalethu wag gretig om in die voordele van ‘n bekostigbare en geskeduleerde busdiens te deel.

“Ons besef dat inwoners van Thembalethu al voorheen teleurgestel is toe ons busdienste na dié gebied probeer uitrol het,” het Morné Lakay, waarnemende bestuurder van GO GEORGE, gesê. “Hierdie keer druk ons vasberade deur, al neem dit ‘n bietjie langer as wat beplan is. Dit maak ons harte warm wanneer ons deur ons kommunikasie met die mense hoor hoeveel hulle daarna uitsien om toegang te hê tot ons diens en die gepaardgaande gerief en besparing.”

Infrastruktuur

Soos met alle vorige ontplooiings na ander dele van die dorp, sal die diens aan Thembalethu begin met die infrastruktuur wat nodig is om glad uit te rol. Dit sal uitgebrei word namate gebruikerspatrone en passasiersbehoeftes duidelik word sodra hulle die diens begin gebruik.

Tot op hede is 11 ingekeepte bushaltes in Nelson Mandela-boulevard en altesaam 129 bushaltes vir die Thembalethu-roetes reeds gebou. ‘n Beperkte aantal busskuilings sal aanvanklik opgerig word, net betyds vir uitrol.

Volgens Lakay word busskuilings regoor die stelsel by bushaltes geplaas waar die meeste passasiers wag om op ‘n bus te klim. “Aangesien ons eers gebruikerspatrone moet monitor nadat die diens na ‘n gebied geaktiveer is, begin ons met tydelike skuilings en volg ons op met permanente skuilings wat redelik duur is om te vervaardig en te installeer. Dit is nie die soort struktuur wat ons graag wil skuif nie.”

Inligting oor die Thembalethu-diens

Die GO GEORGE-kommunikasiespan besoek reeds besighede en organisasies regoor die dorp om inligting te verskaf aan personeel wat in Thembalethu woon. Enigiemand wat ‘n inligtingsbesoek aan hul personeel wil aanvra, kan die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 skakel, van 05:00 tot 20:00, sewe dae per week.

Plakkate is aangebring by nuutgeboude bushaltes in die dorp waar die Thembalethu-busse sal stop.

129 Bushaltes is in Thembalethu gebou. Hierdie dubbelhaltes aan die einde van Nelson Mandela Boulevard is deel van ‘n belangrike vertrekpunt vir busse.

Drie operasionele spilpunte is in Nelson Mandela Boulevard gebou. Hierdie een nader voltooiing.


Previous Article

Next Article