Junior Stadraad ry bus op Vrouedag

16
Aug '17
Junior stadsraadslede kry inligting
Tyron Jeyi (staande), GO GEORGE se gemeenskapskakelbeampte, het tydens die rit op die bus interessante inligting oor die busdiens met die raadslede gedeel. Hulle was effens teleurgesteld om te hoor dat daar nog geen babas op ’n GO GEORGE-bus gebore is nie.

Etlike lede van die junior stadsraad van George sal Vrouedag 2017 onthou as die dag van hul eerste GO GEORGE-busrit. Die jongklomp het ’n gemeenskapsprojek vir dié spesiale dag wat die vroue van Suid-Afrika salueer, beplan, en besluit om op ’n bus te hop na die Rosemoor-dienssentrum vir bejaardes. Hier het hulle die dames met ’n liedjie en ’n dans vermaak en daarna op koffie, tee en kolwyntjies trakteer.

Junior stadsraadslede word afgelaai
Die bus het die junior stadsraadslede by ’n bushalte reg voor die Rosemoor-dienssentrum vir bejaardes afgelaai. Hulle het armsvol varsgebakte muffins en kolwyntjies saamgebring om die bejaarde dames mee te bederf. Van links is Anika Hofmeister, Lené Conradie, Robin Franklin, Megan Bartels, Melissa Vorster (junior burgemeester), Micaela Bester, Brandon Nipper, Tyrese Grobler, Cara Kaboni, Juanique van Rooy en Tyron Jeyi, GO GEORGE se gemeenskapskakelbeampte.

Die junior raadslede was baie beïndruk met die George-vervoerkern (Hub) in die middedorp, en natuurlik ook, soos die meeste besoekers wat vir die eerste keer daar kom, die indrukwekkende passasiers-standbeeld uit skrootmetaal waar altyd foto’s geneem word. Tyron Jeyi, GO GEORGE se gemeenskapskakelbeampte, het gedurende die rit interessante inligting oor die busdiens met die raadslede gedeel en het hul vrae baie geniet. Een jong dame wou weet of daar al enige babas op ’n GO GEORGE-bus gebore is. Ongelukkig moes Tyron erken dat daar nog nie sulke opwindende voorvalle op die busse afgespeel het nie.

Junior stadsraad ontmoet tannie Sophie
Dit was ’n groot eer om saam met die oudste inwoner van die Rosemoor-dienssentrum vir bejaardes, tannie Sophie du Preez (96) afgeneem te word. Saam met haar is, van links, Melissa Vorster, junior burgemeester, en Karen Lamberts en Tyron Jeyi van GO GEORGE wat saam met die junior stadsraad bus gery het.

Latest news