“Kyk, niks op hierdie werf is gevrywaar van busprente, bushaltes en busroetes nie. En ons moet baie lig trap as ons oorweeg om naby Divann se buswerke verby te beweeg en dalk net ietsie te versteur.”
David Goliath lag goedig as hy vertel van sy 11-jarige knaap se versotheid op GO GEORGE – nie net die busse nie, sommer die hele stelsel.
Divann, ’n outistiese seun, gaan bedags skool by die Carpe Diem-skool vir leerders met spesiale behoeftes, maar elke vrye oomblik by die huis word gewy aan sy eie busnetwerk. Hy bou paaie, teken busse en bushaltetekens op karton en knip dit uit, pak rye passasiers met klippies en teken helaas ook sy geliefde busse op die mure binne die huis.
“Ek moes daai kamer se muur al soveel keer oorverf, want die man se inspirasie het net geen einde nie,” lag David.
Toe GO GEORGE hoor van Divann se liefde vir die busse, het ’n afvaardiging vir hom gaan kuier en ’n gelukspakkie saamgeneem wat die man met groot opgewondenheid uitgepak het. Daarin was ’n hele pak tikpapier om op te teken, kryte, kleurpotlode,’n hele komp kwasse en twee potte verfpoeier in die groen en blou van die GO GEORGE-busse. ’n Spesiale GO GEORGE-toerygsak het hom verder verras met ’n t-hemp en pet wat natuurlik dadelik aangetrek is.
Die jong kunstenaar het onmiddellik weggespring met sy blou en groen kryte en letterlik binne minute ’n baie getroue weergawe van ’n bushaltebord geteken. Sy kunstalent en sin vir verhouding het sy besoekers diep beïndruk, terwyl sy ma, Suzanne, lekker lag oor die muurprente wat voortaan seker in kleur gedoen sal word.
Om die kêrel se beker verder te laat oorloop, het die GO GEORGE-span verlede week ’n spesiale bustoer vir Divann en sy ouers uitgewerk. Hulle het naby hul huis in Rosedale op die bus geklim, ’n draai by die vervoersentrum (Hub) in die middedorp kom maak en foto’s geneem, toe ’n bus na Blanco gehaal en daarna teruggekom Hub toe om oor te klim op ’n bus na die Garden Route Mall.
Sy ouer suster, Janique, sê hy het haar selfoon by haar gevat en so ver hulle ry, bushaltes afgeneem. Divann is beslis ’n bushalte-man. En ná die toer het hy sommer ’n klomp nuwe name om op sy borde te skryf.