Toe GO GEORGE die slimkaartstelsel in 2018 bekendgestel het, was die konsep om ‘n kaart te tik of te skandeer om in ‘n bus te klim, nuut vir die meeste passasiers wat die busdiens gebruik. Vandag is dit tweede natuur, met bykans 120 000 kaarte wat tot dusver verkoop is.
Hierdie syfer is egter veel meer as die aantal passasiers wat die busdiens gebruik, en kan deels toegeskryf word aan kaarte wat beskadig word en vervang word.
Sensitiewe tegnologie
‘n Slimkaart is in wese ‘n plastiek kaart met verskillende tegnologie ingebed waarmee die kaart “getik” en gelees kan word wanneer dit aan die verskillende toestelle aangebied word (ritverkoper se toestel, kiosktoestel en die kaartleser op die bus). As die kaart in ‘n werkende toestand is, stel dit die passasier in staat om te sien hoeveel ritte op die kaart oorbly en trek een rit van die balans af wanneer dit op die bus geskandeer word.
As die kaart beskadig word, kan die verskillende toestelle nie die kaart lees nie en sal dit glad nie skandeer nie. Dit is frustrerend en noodsaak ‘n besoek aan een van die GO GEORGE Slimkaartkiosks waar ‘n diagnostiese toets gedoen word om die probleem te bepaal.
Voorkom skade aan kaart
Daar is eenvoudige maniere om die risiko van skade aan ‘n slimkaart te verminder. Dit sal nie net verhoed dat passasiers verontrief word as hulle op die laaste oomblik op ‘n bus klim, net om uit te vind dat hul kaart nie werk nie, maar sal ook die onnodige koste om ‘n nuwe kaart te koop, verhoed.
- Hou die kaart – saam met alle ander kaarte – beskut in ‘n beursie of kaarthouer om moontlike skade deur ander sak- of beursie-items te voorkom.
- Hou die kaart altyd reguit en moet dit nooit buig nie.
- Kontak met yskasmagnete, klampe op beursies en magnete aan die agterkant van maatbande en flitsligte kan ‘n kaart demagnetiseer.
- As jy jou kaart in jou beursie plaas, verhoed dat dit teen die metaalknip skuur en plaas dit so ver as moontlik daarvan.
- Beskerm die kaart teen direkte hitte, oop vlamme, ens.
- Maak seker dat dit nie saam met jou klere in die wasgoed beland nie.
- Hou in gedagte dat dit van plastiek gemaak is – enigiets wat plastiek beskadig, kan die kaart beskadig.
- In wese moet die GO GEORGE Slimkaart soos ‘n bankkaart hanteer word.
Gaan vervaldatum na
Soos enige ander slimkaart en bankkaart, is die GO GEORGE Slimkaart vir ’n bepaalde tyd geldig. Ná vyf jaar moet jy ‘n nuwe GO GEORGE-slimkaart koop, of ‘n ander geldige kaart in jou besit gebruik wat jou geld sal spaar. Hou jou kaart se vervaldatum dop en maak seker jy word nie onverhoeds betrap nie. Die vervaldatum is voorop die kaart gedruk. Gebruik ‘n alternatiewe kaart as jy een het, of koop jou nuwe kaart teen R35 by enige GO GEORGE-slimkaartkiosk. Oorblywende ritte op die kaart wat verval, sal na die nuwe kaart oorgedra word, of na watter bestaande kaart jy ook al kies om te gebruik.