GO GEORGE rig ‘n uitdaging aan die inwoners van George om op Vrydag 22 September die motors by die huis te los en ‘n bus te haal werk toe.
Hierdie dag is wêreldwyd opsy gesit as vanjaar se Motorvrye Dag (Car-free Day) om die wêreldbevolking te herinner dat daar alternatiewe maniere is om van punt A na Punt B te beweeg – hetsy te voet, met ‘n fiets, of hier plaaslik, met ‘n gerieflike GO GEORGE-bus. Daar is deesdae meer as eenbiljoen motors op die wêreld se paaie, met die noodwendige impak op lugbesoedeling wanneer elke individu met sy eie motor werk toe ry.
George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Malvin Naik, doen ‘n vriendelike beroep op inwoners om Vrydag hul motors by die huis te los. “Die openbare busdienste in Suid-Afrika waarop die regering so klem lê, is juis daarop gemik om mense minder afhanklik van hul motors te maak en sodoende onder andere lugbesoedeling te bekamp,” sê hy. “Kom ons ry Vrydag bus, of fiets, of slaan ‘n bietjie voet!”
Motorvrye Dag streef nou om die druk op Planeet Aarde vir een dag per jaar te verlig deur mense aan te moedig om alternatiewe vervoer te gebruik, en hulle natuurlik opnuut bewus te maak van alternatiewe vervoermetodes. In groot wêreldstede soos Bogota en Jakarta word die sentrale paaie op hierdie dag vir motorvervoer gesluit en met spesiale stap- en fietsrygeleenthede gevul.
Die GO GEORGE-skedules en -roetes is alles op die webblad www.gogeorge.org.za beskikbaar, maar hul Inbelsentrum sal net so graag help met roetebeplanning en kan geskakel word by 0800 044 044. Belangstellendes wat graag aan die inisiatief wil deelneem, kan ‘n e-pos stuur aan info@gogeorge.org.za, sodat die span ‘n nommerpas roete kan uitwerk en terugstuur vir jou en jou kollegas!