Meer busroetes op Vlak 3 kom met ’n waarskuwing

GO GEORGE fase 3 implementering

Sosiale afstand en die dra van maskers dra by om die verspreiding van die virus te bekamp.

Die GO GEORGE-busdiens stel vanaf Maandag 1 Junie 2020 weer drie van die roetes in wat tydelik opgeskort is tydens vlakke 5 en 4 van die nasionale inperking: Roete 51 Parkdene Community, Roete 3 Blanco Community en Roete 56 Denneoord – CBD.

Die oorblywende onaktiewe roetes sal ingefaseer word gebaseer op assessering van kapasiteit, aanvraag en voldoening aan veiligheidsmaatreëls. Die huidige tydrooster en verminderde kapasiteit volgens regulasies op die busse sal voortgaan, daarom word passasiers versoek om hul ritte deur die dag te versprei om spitstye te vermy indien enigsins moontlik.

Wees selfs versigtiger as voorheen

Die groter aantal operasionele roetes kom egter met ‘n ernstige waarskuwing aan passasiers om verantwoordelikheid vir hul eie gesondheid en veiligheid, en dié van medepassasiers te neem.

GO GEORGE-bestuurder, James Robb, het ’n beroep gedoen op passasiers om saam te werk om die verspreiding van die virus te beperk. “Ons wil die belangrikheid van verantwoordelike gedrag en nakoming van veiligheidsmaatreëls beklemtoon, nou meer as ooit. Meer busse gaan terug in diens geplaas word op dieselfde tyd dat die verspreiding van die Covid-19-virus vinnig gaan styg.

“Ons mag nie dink vlak 3 beteken dat ons nou ons waaksaamheid kan verslap nie. Dit beteken eintlik dat ons baie versigtiger moet wees as voorheen aangesien passasiers blootgestel sal word aan baie meer mense en geleenthede om deur die virus besmet te word. Dra jou masker, was en ontsmet jou hande, hou sosiale afstand, en bly tuis as jy kan. Die bus is steeds ‘n hoë-risiko omgewing en moet slegs gebruik word vir noodsaaklike ritte.”

Drywers se gesondheid moet beskerm word

Die risiko vir busbestuurders is ’n kwessie en word aangespreek deur die implementering van drie daaglikse skofte om hul gesondheid te beskerm. Voortgesette diens is afhanklik van die gesondheid en beskikbaarheid van die drywers, wat afhang van verskeie faktore, insluitend passasiers se uitvoering van die veiligheidsmaatreëls.

Versprei die aanvraag deur skofte te stapel

Robb doen ‘n beroep op werkgewers om te help om die risiko vir hulle personeel te beperk. “Dit sou die heel beste wees as werkgewers vervoer vir personeel kan reël om sodoende openbare vervoer uit te skakel. As dit nie moontlik is nie, sal dit ‘n groot verskil maak as skofte gestapel kan word om op verskillende tye deur die dag te begin. Dit sal opeenhoping op die busse tydens spitstye verlig. Hoewel ons toegelaat word om alle sitplekke te vul, sal dit die beste wees as daar ruimte vir sosiale afstand op die busse is.”

Sodra die voorskrifte van die Minister van Vervoer uitgereik word, sal die tye wanneer diens saans ten einde loop aangekondig word.


Previous Article

Next Article