Met die herleiding van die GO GEORGE-diens tussen die Garden Route Mall en Rosemoor na die nuwe pad agter Eden Meander, het passasiers wat by die Blue Mountain-kompleks en motorhandelaars in die omgewing werk, ’n bushalte nader aan hul werksplekke versoek. Die nuwe Eden Meander-bushalte by die ingang van Blue Mountain Haven gee verpleegpersoneel by dié versorgingsoord nou gemoedsrus.
Hier wag Patricia Stander net na 19:00, met daglig wat reeds oorgaan in skemer, vir die Rosemoor-bus. “Ons voel regtig nou baie veiliger, selfs in die oggend wanneer die son nog nie uit is wanneer ons werk toe kom nie. Ek klim lekker gerieflik van die bus af, net ’n paar meter van die kompleks se ingang af. In die aand hoef ek skaars te wag voor my bus kom. Voorheen het dit regtig onveilig gevoel om die afstand tussen my werk en die naaste stop in die donker te loop.”