Die GO GEORGE Slimkaart het op 15 November 2018 in werking getree met passasiers wat eers drie dae later hul kaarte begin gebruik het, ná ’n komplimentêre periode van gratis bus ry vir kaarthouers. ’n Geskatte 90 persent van daaglikse ritte wat sedert Sondag 18 November onderneem is, is gedoen deur Slimkaarthouers.
“Ons was voorbereid om verskeie moontlike probleme op te los aangesien mens nooit weet watter draaibal mag opduik met die implementering van ’n algehele nuwe stelsel nie,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Ons mikpunt was om ontwrigting en ongerief vir passasiers tot die minimum te beperk, en ek kan met groot verligting sê dat die aanvanklike paar haakplekke maklik was om te identifiseer en dat ons besig is om dit aan te spreek; ons leer eintlik vroeg in die proses baie daaruit. Dit beteken nie dat alles van nou af seepglad gaan verloop nie, maar ons is vol vertroue dat die voorbereiding en beplanning wat in die ontwikkeling van hierdie geoutomatiseerde stelsel ingegaan het, vrugte afwerp.”
Robb sê dit was uiters bemoedigend om te sien hoe vinnig almal snap. “Bestuurders sowel as passasiers; almal was eers ’n bietjie huiwerig, maar ná ’n eerste skof of rit kon jy letterlik die selfvertroue sien toeneem. Dis ’n geval van ‘doen dit net’!”
Passasiers wat enige probleme met hul Slimkaarte ondervind word versoek om na hul naaste Slimkaartkiosk toe te gaan waar die personeel die kaart sal toets. Indien ’n kaart foutief bevind word, sal dit kosteloos vervang word en die balans van ritte daarop oorgeplaas word. Indien ’n kaart beskadig is, kan die kaarthouer ’n nuwe een koop teen die normale prys van R40 en ook die ritbalans laat oordra ná verifikasie.
Mense moet egter kennis neem dat die meeste van die probleme soos kaarte “wat nie registreer op die kaartleser nie” of “geen ritbalans toon nie” waarskynlik menslike hanteerfoute is en nie stelselfoute nie, terwyl almal nog gewoond raak aan nuwe prosedures.
“Dis steeds die regte ding om na die naaste Slimkaartkiosk toe te gaan, maar passasiers moenie skrik wanneer iets nie die eerste keer reg werk nie. ’n Klein aanpassing hier en daar aan die hantering van die kaart of die sensitiwiteit van die toerusting mag dalk al wees wat nodig is,” sê Robb.
Vir enige navrae oor die ligging van mobiele Slimkaartvoertuie en -kiosks of herlaaipunte, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044.