Met die nuwe skooljaar wat hierdie week afgeskop het, is ouers se skedules weer gelaai met ritte om kinders by die skool af- en op te laai. Die GO GEORGE-busdiens bied ‘n handige en praktiese alternatief aan inwoners in die areas waar die busdiens reeds beskikbaar is.
“Ons wil ouers graag herinner dat kinders van 12-jarige ouderdom af die busse op hul eie mag gebruik, terwyl GO GEORGE nie verantwoordelikheid neem vir jonger kinders wat sonder volwasse toesig ry nie. Hierdie is so ‘n gerieflike en veilige oplossing, en boonop bekostigbaar ook, dat ons ouers regtig wil help om ‘n plan uit te werk om hul kinders per bus skool toe te laat ry,” sê GO GEORGE-bestuurder, James Robb.
“Ons kommunikasiespan is tans besig om alle skole wat deur die busdiens bedien word te besoek om graad agts in te lig oor die verskillende busroetes skool toe. Unieke kaarte wat die verskillende opsies van roetes skool toe en terug huis toe uitbeeld, is geskep vir elke skool en word uitgedeel en bespreek met die leerders. Hierdie kaarte kan ook afgelaai word op ons webblad,” sê hy.
“Ons het egter ouers se hulp nodig om hul kinders op te voed om veilig te wees in die omgewing van die busse, en om by die reëls te hou wat verseker dat ‘n busrit ‘n aangename ervaring vir al die passasiers is, wat ook insluit dat die busse en bushaltes nie gevandaliseer word nie. Niemand word toegelaat om te eet of te drink op die busse nie – dit sluit kougom wat net te maklik op enige oppervlak geplak word in – en harde musiek of luidkeelse selfoongesprekke is ook onaanvaarbaar. Maar nog belangriker is die feit dat ons wil hê kinders moet versigtig wees wanneer hulle van die bus af klim en die straat kruis, en om nie oor die straat te loop van agter ‘n bus uit waar motoriste hulle nie kon sien of verwag het nie. Die reël is om die pad by ‘n veilige voetoorgang te kruis, wat die rede is waarom ons bushaltes almal naby ‘n afgebakende voetoorgang geplaas is. Verduidelik ook asseblief aan kinders hoe gevaarlik dit is om langs ‘n bus te hardloop en daaraan te probeer raak; ons vind dat hierdie ‘n gewilde en baie gevaarlike speletjie onder die jongklomp is,” waarsku Robb.
Vir meer inligting oor die beste roetes na die skole in die dorp, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 of stuur ‘n e-pos na info@gogeorge.org.za.