Sanlam skenk beskermingstoerusting aan GO GEORGE

Man testing the non-contact infrared thermometer on another man’s hand while a number of people are looking on. Everybody is wearing face masks covering their mouths and noses.

Roger Meyer, Sanlam se sake-ontwikkelingsbestuurder (vierde van regs) toets die kontaklose infrarooi-termometer op James Robb, GO GEORGE-bestuurder. Van links is Beunet Smith en Vuyani Simama (Sanlam), GO GEORGE-personeellede Thembisa Toba, Elizabeth Uithaler, Anneline Ngqavu en Tyron Jeyi, en Morné Lakay (GO GEORGE-assistentbestuurder).

Synde ‘n openbare vervoerdiens wat die plaaslike gemeenskap dien, is GO GEORGE onlangs deur Sanlam geïdentifiseer as ‘n geskikte ontvanger vir ‘n skenking van persoonlike beskermingstoerusting om die verspreiding van die Covid-19-virus hok te slaan.

Die skenking van 200 drielaagmaskers, 200 botteltjies vloeibare handreiniger, twee kontaklose infrarooi-termometers, en twee grootmaathouers met handreiniger is verlede week tydens ‘n kort seremonie by die GO GEORGE-kantoor oorhandig.

“Die busbestuurders en personeel van GO GEORGE lewer ‘n belangrike diens in die gemeenskap. Die aard van hul werk stel hulle bloot aan die gevaar om die koronavirus op te doen,” het Kobus Cronje, Sanlam-sakebestuurder, gesê. “Ons betrokkenheid by gemeenskappe, belanghebbendes en kliënte is daarop gemik om die verspreiding van die koronavirus te beperk, en dit is bo en behalwe die R1 miljard-belofte wat Sanlam, die Motsepe-stigting en sy gepaardgaande vennote gemaak het.”

Roger Meyer, sake-ontwikkelingsbestuurder van Sanlam in George, het benadruk dat die bou van gesonde verhoudings sentraal staan tot hul etos en dat Sanlam daarna uitsien om voort te bou op sy bestaande verhoudings met die gemeenskap en sakeondernemings in George. “Die skenking van ongebrandmerkte persoonlike beskermingstoerusting is deel van ons verbintenis om iets terug te gee aan die gemeenskap van George – daar waar dit die nodigste is,” het hy gesê.

GO GEORGE-bestuurder James Robb bedank Sanlam vir hul vrygewigheid en bevestiging van die belangrikheid van die diens wat GO GEORGE aan die gemeenskap lewer. “Sanlam se erkenning getuig daarvan dat ons personeel daagliks blootstelling aan die Covid-19-virus waag deur ‘n noodsaaklike diens aan die mense van George te lewer. Die skenking sal deur ons spanlede in die voorste linie gebruik word in hul voortgesette diens aan ons passasiers op ‘n veilige en verantwoordelike wyse,” sê Robb.


Previous Article

Next Article