Trotse dag vir George Link met aankoop van eie busse

MAN bus oorhandiging

Die MAN-busse met hul effens verskillende profiel is in groepe oor die afgelope paar maande afgelewer en is reeds 'n bekende gesig in die strate van George. Die amptelike oorhandiging is in goeie gees gevier met verskeie belanghebbendes, van George Link-direkteure tot amptenare van die Wes-Kaapse Provinsie en George-munisipaliteit. Van links is Lionel Fortuin (direkteur), Manon McDonald (vlootbestuurder, George-munisipaliteit), James Robb (GO GEORGE-bestuurder), Hannes Wannenburg (hoof finansiële beampte, George Link), rdl. Charlotte Clarke (onderburgemeester), John Heathcote (direkteur), Aliva George (direkteur) en Richard von Wielligh wat die direkteur van beskermingsdienste, George-munisipaliteit, verteenwoordig het.

Die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk (GIPTN) het ‘n historiese mylpaal in die projek bereik toe MAN Truck & Bus onlangs die volledige bestelling van 18 nuwe busse aan George Link, die voertuigbedryfsmaatskappy wat vervoerdienste aan GO GEORGE VERSKAF, oorhandig het.

Deel van die implementering van die GIPTN-projek was om ‘n maatskappy te sien tot stand kom uit voormalige taxi-operateurs, wat verskeie soorte openbare vervoerdienste in George sal kan lewer. Die kontraktuele ooreenkoms was dat die aanvanklike vloot deur George-munisipaliteit gekoop sal word en aan George Link verhuur word, en dat enige bykomende busse vanaf drie jaar ná die uitrol van die busdiens deur die bedryfsmaatskappy aangekoop sal word.

Volgens John Heathcote, direkteur en bedryfsbestuurder van George Link, was dit ‘n grootse geleentheid vir alle aandeelhouers. “Ons is baie emosioneel oor hierdie mylpaal, veral as jy in gedagte hou waar ons vandaan kom en waar ons vandag staan. Ons waardeer die ondersteuning van die Munisipaliteit sowel as Provinsie, wat dit moontlik gemaak het.”

Heathcote sê dit was ‘n uitsonderlike ervaring om saam met MAN te werk om die maatskappy se busse te pasmaak. “Ons was later skaam om telkens terug te gaan na hulle toe met nóg ‘n versoek van iets wat ons graag in ons busse wil hê, maar hulle het gewoon net voldoen aan ons wenslys en die regering se spesifikasies; dit was ‘n proses van oop onderhandelinge en wedersydse respek. MAN se verbintenis en erns om sake te doen, word verder gedemonstreer deur die nuwe tak wat hulle nou in George oopgemaak het, waar die onderhoud van die busse sal plaasvind.”

James Robb, GO GEORGE-bestuurder, het George Link gelukgewens met die eerste aankoop van hul eie busse. “GO GEORGE is ‘n transformasieprojek en om te sien dat George Link eienaarskap van hul eie busvloot neem, is om te sien hoe diegene wat deel was van die taxibedryf in George, verder bemagtig word, soos wat die projek ten doel het om te doen. George Link het soveel opsies moontlik in die mark ondersoek; hulle busse voldoen aan die regering se spesifikasies en die maatskappy se verwagtinge. Ons vertrou dat die verkryging van hierdie busse die aandeelhouers sal help om hul maatskappy na selfs groter hoogtes te neem.”

‘n Afvaardiging van MAN Truck & Bus SA het George toe gevlieg om die oorhandiging waar te neem. Tiago Dias, hoof van hul nasionale busrekeninge-departement, het kommentaar gelewer op die proses waarmee hulle aan die einde van 2016 begin het. “Ons is trots om deel te wees van George Link se reis, inaggenome waar hulle vandaan kom en waar hulle nou is. Ons is markleiers, ons het ‘n goeie produk, en George was die enigste plek in die land waar ons nog nie busse het nie – dit was tyd om ‘n paar MAN-busse in George te kry! Dit was ‘n groot eer om met die manne sake te doen; hulle is baie professioneel en die proses het glad verloop. Dit inspireer ons om die stelsel te sien werk met busse net waar jy ry in George; dit is goed vir die mense, dit is goed vir George, en dit is uiters bevredigend om deel hiervan te wees.”

Met die toevoeging van die 18 MAN-busse staan die GO GEORGE-vloot nou op 54 standaardbusse (wat die MAN-busse insluit), 33 midibusse en 35 minibusse. Hierdie vloot sal die busdiens kan diens tot en met die volgende fase van uitbreiding, maar sal vir enige verdere uitbreiding ná fase 4 weer vergroot moet word.


Previous Article

Next Article