Die GO GEORGE-kommunikasiespan het besoek afgelê by die Up with Down’s-sentrum vir leerders en volwassenes met spesiale behoeftes in Blanco om basiese inligting oor Covid-19-veiligheid te deel, die reëls wat van toepassing is wanneer hulle op die bus ry te verduidelik, en passasier- en voetgangerveiligheid in die omgewing van die busse te beklemtoon.
Soos gewoonlik was die vriendelike gelukbringer Georgie die ster van die dag onder die kinders én volwassenes terwyl hy almal entoesiasties laat deelneem het aan die Jerusalema-dans. Hierdie keer moes hy egter die kollig as fotomodel deel met die bus-fotobanier waar die leerders en inwoners tou gestaan het om deur die vensters te loer en vir die kamera te glimlag.
Met die ontvangs van hul GO GEORGE-geskenksakkies het ‘n paar kinders die opvoedkundige items wat hulle verlede jaar by GO GEORGE gekry het, gou gaan haal en kom wys.
Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, is die ontwerp van die busdiens gebaseer op die beginsel dat universele toegang in alle sfere van die lewe nie ‘n voorreg is nie, maar ‘n reg, verskans in die Grondwet. “GO GEORGE as ‘n openbare vervoerdiens het ten doel om so inklusief en toeganklik moontlik vir die hele gemeenskap te wees, en dit sluit mense met verskillende kategorieë spesiale behoeftes in,” sê hy.
Verskeie skole en organisasies wat spesifiek voorsiening maak vir die behoeftes van mense met gestremdhede word by die busdiens se uitreikprogram vir die jaar ingesluit, en veral in November, die Maand vir die Bewusmaking van die Regte van Mense met Gestremdhede.
