Die GO GEORGE-busdiens, soos openbare busdienste in die meeste stede, is opgeskort weens ’n nasionale vakbondstaking sedert Woensdag 18 April 2018.
Die George-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering is baie besorg oor die impak van die staking op die inwoners van George en het maatreëls aangekondig om die uitwerking op gereelde gebruikers van die GO GEORGE-busdiens te verlig.
"Ons weet een bekommernis van ons gereelde passasiers is die een-maand geldigheid van ons multiritkaartjie (MJT) wat mag verval terwyl die staking nog voortduur," sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. "Daar is besluit dat die geldigheid van kaartjies wat reeds aangekoop is, verleng sal word. GO GEORGE sal die duur van die toepaslike verlenging bevestig. Ongelukkig is die munisipaliteit nie in ’n posisie om gedurende die staking alternatiewe dienste vir pendelaars aan te bied nie."
Die publiek word genooi om die GO GEORGE Facebook-blad te volg vir die jongste nuus oor die status van die busdiens, of die GO GEORGE-inbelkantoor te skakel by 0800 044 044.