Om op ’n weekmiddag te gaan fliek tydens jou vakansie, klink na net die regte ontspanningsaktiwiteit, maar om die uitstappie sonder jou beursie af te sluit, is effens minder ontspannend.
GO GEORGE-passasier Anthony Dobie het rede om die lof van die GO GEORGE-span wat saamgewerk het om sy beursie te soek, te besing. “’n Mens is geneig om te dink daar is geen kans dat jy ’n beursie met ’n paar honderd rand in sal terugkry nie. Ek kon dus skaars glo hoe gelukkig ek is toe ek uiteindelik die volgende dag besluit om ’n draai te gaan maak by die Info Kiosk in die Transport Hub,” sê hy. “Ek was nie eers seker waar ek dit verloor het nie, so ek was regtig baie verlig.” GO GEORGE het standaard prosedures wat gevolg word met verlore en
teruggevinde goedere. Wanneer ’n personeellid ’n verlore item op ’n bus vind, rapporteer hulle onmiddellik die besonderhede rakende die item, tyd, roete en busvlootnommer en neem dit na die GO GEORGE-inbelsentrum waar dit vir drie maande gehou word. Toe GO GEORGE-passasiersdiensbeampte, Diketseng
Mosesane, die beursie op die agtersitplek van die bus kry, het sy dus geweet wat om te doen.
Die inligtingsbeampte by die kiosk, Meloney Frans, het die vorige aand reeds op die oproepsentrum se Whatsapp-groep gesien dat ’n beursie ingehandig is, en het Anthony in verbinding geplaas met Ferdie Geduld by die inbelsentrum. Anthony sê Ferdie het regtig die ekstra myl geloop om hom as die ware eienaar van die beursie te identifiseer en dit aan hom terug te gee. Uiteindelik was dit ’n paar Israelse muntstukke in die beursie na ’n onlangse besoek, wat die knoop deurgehak het. En inderdaad, al Anthony se kontant was ook steeds daar. GO GEORGE moedig passasiers aan om ’n laaste keer te kyk of hulle alles waarmee hulle opgeklim het, by hulle het wanneer hulle van die bus afklim. Wanneer iets wel agterbly, is dit belangrik om die inbelsentrum dadelik by 0800 044 044 te skakel. Hoe gouer jy bel, hoe groter is die kans dat jy jou besittings sal terugkry.