Reeds aan ‘t beplan aan hul volgende GO GEORGE-busrit, is ’n groep avontuurlustige dames van die Rendezvous Cottages-aftreeoord in George die afgelope week Garden Route Mall toe op ’n bus ná ’n besigtigingstoer van die George-vervoerkern (Transport Hub) in die middedorp.
Almal van hulle het in een of ander stadium van hul lewe van busvervoer gebruik gemaak en het gemeen dit is ’n skande dat hulle nog nie hul eie plaaslike busdiens getoets het nie. Hulle het kontak gemaak met GO GEORGE en is bygestaan om ’n gepaste tyd en roete vir die uitstappie te kies. GO GEORGE-personeel het die groep by die Hub ingewag en interessante feite oor dié fasiliteit en die busdiens uitgewys.
Dié wie se vriende of gades die uitnodiging om saam te kom van die hand gewys het, is vasberade om hulle te oorreed om die volgende rit mee te maak, veral aangesien hulle nou self kon sien hoe
toeganklik die GO GEORGE-busse vir bejaardes met beweeglikheidsprobleme is.
Enige iemand wat bystand benodig om ’n groepsuitstappie op die busse te organiseer, is welkom om 0800 044 044 te skakel en ’n kontaknommer te laat, of ’n e-pos te stuur aan info@gogeorge.org.za.