Bewusmakingsmaand van die Regte van Mense met Gestremdhede: GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes leer frases in gebaretaal

Passasiersdiensbeamptes leer frases in gebaretaal

Die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes was baie in hul skik met hul nuutverworwe woordeskat in Gebaretaal en kon skaars wag om by die bushaltes uit te kom om hul nuwe vaardigheid te toets. Hier sê hulle: "Ek help jou" Kloksgewys van voor links is Janell Gelant, Thandokazi Joka, Tanya Appels, Joey Ruiters, Thembisa Matiya en Nomsa Ginyagazi.

Mense wat moeilik hoor, sal hul kop met die oor wat beter hoor na jou toe draai en jou gesig en mond dophou om jou lippe te lees. Praat stadig en vorm die woorde duidelik met jou lippe en maak seker daar is lig op jou gesig vir duidelike sigbaarheid.

Dit is ‘n paar van die handige wenke wat oorgedra is aan die eerste groep GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes wat ‘n werkswinkel bygewoon het by Elina Nieuwoudt, ‘n vriendin van die Dowe gemeenskap in George en wat Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) ken.

Die doel is om die passasiersdiensbeamptes toe te rus met basiese kennis om ‘n passasier te identifiseer wat moontlik hardhorend of doof is en basiese frases rakende die busdiens in gebaretaal oor te dra. Hulle is die personeel wat direk met passasiers, insluitend persone met verskillende kategorieë spesiale behoeftes, werk. Die groep wat die werkswinkel bygewoon het, het dit geniet om ‘n nuwe vaardigheid wat hulle in staat sal stel om hoflikheid te betoon aan passasiers wat gehoorgestremd is, aan te leer.

“Selfs al kan ek net daardie persoon groet, my naam sê en hulle in gebaretaal op ‘n GO GEORGE-bus verwelkom, is ek seker hulle sal my poging waardeer,” het een van die beamptes gesê, “maar as ons onder onsself oefen, hoop ek om te onthou hoe om ook die busroosters en roetekaarte aan te bied en hulle te herinner dat hulle nie met kontant kan betaal nie, maar ‘n Slimkaart moet gebruik om op die bus te ry.”

Volgens terugvoer wat Elina van ‘n paar Dowe vriende ontvang het, hou die dra van maskers ‘n paar uitdagings vir liplesers in. Toe sy die GO GEORGE-inligtingkiosk besoek het vir raad, kon ‘n passasier wat gehoorgestremd is nie die inligtingsbeampte se lippe lees nie, en het sy aangebied om terug te staan van die venster af sodat die beampte haar masker vir die gesprek kon afhaal – ‘n wen-wen-situasie. “Nog ‘n passasier het haar vraag oor die busdiens neergeskryf, met die passasiersdiensbeampte wat skriftelik daarop gereageer het. ‘n Versoek vir roete-inligting op Facebook is beantwoord met ‘n foto van die roetekaart.  Oor die algemeen vind mense met ‘n gehoorgestremdheid die GO GEORGE-personeel en -busbestuurders baie behulpsaam,” sê sy.

Om passasiers te akkommodeer wat gehoorgestremd is, dui die digitale inligtingsborde binne die busse aan watter bushalte volgende kom, terwyl skriftelike instruksies wat binne busse aangebring is, hulle help om die stelsel te gebruik.

James Robb, GO GEORGE-bestuurder, is positief oor die jongste verwikkelinge. “Ons het vandeesmaand, tydens die Maand vir die Bewusmaking van die Regte van Mense met Gestremdhede, afgeskop met die vaardigheidsuitbouing van die passasiersdiensbeamptes om verskillende kategorieë spesiale behoeftes beter te dien. Dit sal egter deel bly van ‘n deurlopende program om op die behoeftes van alle passasiers te fokus en om voortdurend ons kliënte se ervaring van die GO GEORGE-diens binne die gemeenskap van George te verbeter,” het hy gesê.


Previous Article

Next Article