COVID-19 INPERKING VLAK 3: Busse ry weer tot later

Met die instelling van vlak 3 van die nasionale inperking môre, 1 Junie 2020, ry die GO GEORGE-busse weer tot later in die aand. Die aankondiging volg op die ontvangs van die jongste vervoerregulasies van die Nasionale Departement van Vervoer gistermiddag.

Vir nou sal die laaste busse dorp toe vanaf vertrekpunte in Pacaltsdorp, Parkdene, Rosemoor, die Garden Route Mall en Blanco om 19:00 vertrek, en van die middedorp na hierdie gebiede om 19:30.

Die situasie sal oor die komende dae geassesseer word soos GO GEORGE voortgaan om blootstelling van passasiers en personeel aan die virus te beperk, terwyl gepoog word om die beste vlak van diens vir passasiers wat afhanklik is van busvervoer te bied.


Previous Article

Next Article