Fase 4B: GO GEORGE gereed om Sondag uit te rol

Bus stop signage

George-munisipaliteit is met mening besig om soveel moontlik van die onvoltooide infrastruktuur in die omgewing af te handel. Die oprigting van bushaltetekens en -name op pale wat tot nou toe kaal was, het inwoners gerusgestel dat hier beslis iets aan die gebeur is.

Die lang wag is verby: ‘n vloot van GO GEORGE-busse sal op Sondagoggend 22 Maart 2020 lank voor sonop die busdepot verlaat vir hul eerste geskeduleerde ritte na Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp.

Dit kom 11 maande nadat die aanvanklike ontplooiing wat vir 28 April 2019 beplan is, drie dae voor die gebeurtenis deur politieke hoofde gekanselleer is. Inwoners van hierdie gebiede was uiters teleurgesteld en ongelukkig en moes oortuig word om die beloftes hierdie keer te vertrou.

Maar die gemaal van aktiwiteit in hul omgewing soos wat die munisipaliteit die laaste bushaltes en -skuilings voltooi, die personeeldiensbeamptes wat hul huise van deur tot deur besoek en baniere wat opgerig word, het die opwinding en afwagting van die vorige poging laat herleef. Bestuurders op roete-opleiding is die afgelope week deur entoesiastiese inwoners met ’n gewuif en gejuig begroet.

Bystand vir nuwe passasiers

Die passasiersdiensbeamptes sal van die heel eerste dag af by die bushaltes en op die busse wees om passasiers by te staan en vertroud te maak met die nuwe manier van reis regoor die dorp, op ’n geskeduleerde busdiens. ’n inligtingskiosk is ook voor Parkdene Sekondêre Skool opgerig en sal van 10:00 tot 18:00 op weeksdae, en 09:00 tot 13:00 op Saterdae beman word om nuwe passasiers met ritbeplanning en stelselinligting by te staan.

Die GO GEORGE-inbelsentrum (0800 044 044) is daagliks van 05:00 tot 21:30 operasioneel, naweke ingesluit. Die GO GEORGE Facebook-blad is ‘n nuttige bron van die jongste nuus, inligting en handige wenke oor die gebruik van die busdiens. Sien roetekaarte en tydroosters.

 

Parkdene info kiosk

Hierdie nuwe inligtingskiosk voor Parkdene Sekondêre Skool sal vanaf 10:00 tot 18:00 op weeksdae beman word en van 09:00 tot 13:00 op Saterdae. Hendrina Snyman (middel) werk by die skool en het kom inloer om die twee passasiersdiensbeamptes, Patricia Jacobs (links) en Alicia April (regs), te ontmoet en haar opgewondenheid oor die komende ontplooiing te kom deel.


Previous Article

Next Article