Die GO GEORGE-kommunikasiespan het verlede week by groter besighede begin besoek aflê om die gemeenskap voor te berei om die busdiens te gebruik wanneer dit op 22 Maart na Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp uitrol.
Hulle is oral deur die bestuur verwelkom en die geleentheid gegee om met personeel te gesels, te help om hul roete werk toe te beplan van waar hulle woon, en aan te dui waar en hoe hulle tussen busse moet oorklim indien nodig. Werkgewers met ‘n beduidende aantal personeellede wat die nuwe diens sal gebruik, is welkom om ‘n besoek aan te vra.
Passasiersdiensbeamptes op pad
Die personeeldiensbeamptes (champions) het verlede jaar intensiewe opleiding oor die stelsel, roetes en tydroosters ondergaan vir die bekendstelling van die diens wat toe uitgestel is. Aangesien amper ’n jaar sedertdien verloop het, doen hulle hierdie week ‘n opknappingskursus en begin Saterdag met deur-tot-deur besoeke in die gemeenskap, en daarna van Maandag tot Saterdag elke week tot die ontplooiing.
Inwoners in die gebied word vriendelik versoek om die beamptes in hul huise te ontvang wanneer hulle kom aanklop. Hulle sal van 09:00 tot 13:00 werk op Saterdae, en van 10:00 tot 18:00 op weeksdae, sodat mense wat bedags werk ook bereik kan word. Hulle sal verduidelik hoe die stelsel werk, roetekaarte en tydroosters uitdeel en vrae oor die gebruik van die busdiens beantwoord.
Die beamptes sal van die heel eerste dag af by die bushaltes en op die busse wees om passasiers by te staan en vertroud te maak met die nuwe manier van reis regoor die dorp, op ’n geskeduleerde busdiens. Indien iemand onseker voel en hulp benodig met roetebeplanning, kan hulle ook die GO GEORGE-inbelsentrum skakel by 0800 044 044.
